Siggestremde baba se ouers hoopvol na behandeling in Duitsland
Hoewel 70% van Arlú optiese senuwees onherstelbaar is, kan hy steeds 'n normale lewe met 30% optiese senuwees lei.
Die ouerpaar van die siggestremde baba seuntjie (sewe maande) is hoopvol dat hy ‘n normale lewe sal lei. Dít nadat klein Arlú Pieterse kort na sy geboorte met bilaterale optiese atrofie gediagnoseer is.
Dit is ‘n toestand wat die optiese senuwees in die oog affekteer en visie verlies veroorsaak. Arlú se ma, Amoreez (31) het vroeg reeds agter gekom dat hy sommige van sy mylpale nie bereik nie en hom na ‘n pediater en oogspesialis gevat wat sy diagnose bevestig het.
Omdat daar na bewering geen behandeling vir bilaterale optiese atrofie in Suid-Afrika is nie, moes die Pieterse gesin noodgedwonge na Duitsland reis om Arlú by ‘n kliniek uit te kry wat in visie verlies spesialiseer.
Hierdie gesin was vanaf 9 tot 23 Februarie in Berlin, Duitsland waar hy sy eerste behandeling ontvang het. Met sy aankoms by die Fedorov Restore Vision Kliniek is daar onmiddellik ‘n hele rits toetse op sy oë gedoen om die graad van sy visie verlies vas te stel.

Die elektriese stimulasie behandeling het uit 12 sessies ontstaan waar ‘n elektriese stroom deur elektrodes na die oog oorgedra word, wat daarop gemik is om potensiële visie te verbeter deur die retina en optiese senuwee te stimuleer.
“Die eerste week het hy die behandeling ongelooflik goed hanteer. Met elke sessie is die elektriese frekwensies opgedraai wat die frekwensies sy optiese senuwees stimuleer,” het Amoreez trots vertel.
“Hy het meeste van die tyd gedurende die behandeling aan die slaap geraak. Maar in die tweede week was die elektriese frekwensies aansienlik hoër en was dit moeiliker om ‘n sewe maande oue baba stil te hou vir die 45 minute sessies, maar in algeheel het hy uitstekend gedoen.”
Die toetse wat op die eerste dag op hom uitgevoer was, was elke vierde dag herhaal om te kyk of sy oë enigsins verbeter en volgens Amoreez het sy oë elke keer na afloop van die toetse ‘n verbetering getoon.
LEES OOK: Springs born author donates set of books to library
Hoewel daar beslis verbetering is, was die dokters se uitspraak dat 70% van sy optiese senuwees reeds onherstelbaar is. Hy het nog 30% optiese senuwees oor en kan glo steeds ‘n vol en onafhanklike lewe lei.
“Hy verstom homself aan sy eie hande en bekyk sy vingertjies noukeurig. Hy het ook tydens een van die sessies die hangertjie om my nek vir die eerste keer raak gesien en sy handjies uitgesteek en daaraan gevat.”
Die mediese personeel het die Pieterse gesin verseker dat daar tot en met ses maande na die behandeling steeds verbetering kan wees, maar dat Arlú eendag met sport, hand-oog koördinasie en die bestuur van ‘n motor kan sukkel.
Klein Arlú sal dié behandeling oor agt maande weer moet ontvang om sy huidige visie wat baie vaag is, te verbeter.

“Ons gesin is sonder twyfel deur ‘n bitter moeilike tydperk van onsekerheid met sy diagnose. Hy is nou eers sewe maande oud en vir die laaste sewe maande het my lewe uit doktors afsprake, MRI’s, spesialiste en arbeidsterapie ontstaan,” het Amoreez gesê.
Arlú is in Januarie ook met Dandy Walker sindroom gediagnoseer, wat ‘n seldsame breindefek is, wat voorkom wanneer die serebellum nie normaal ontwikkel nie. Dit sal veroorsaak dat hy motoriese uitdagings beleef met sit, staan of loop.
“Ons is kinderlik opgewonde oor die verbetering wat daar reeds is en ons is versigtig optimisties oor die toekoms. Gedurende hierdie moeilike tyd het ek besef dat ek Arlú se diagnoses ten volle aan die Here moet oorgee.
“Geen dokter of uitslae gaan bepaal wat Arlú kan en nie kan doen nie. Die Here sal daardie besluit neem en dis my verantwoordelikheid om Hom te vertrou.”
LEES OOK: Oudste dogter van Springs se ‘Huis van Gruwels’ deel haar storie



