Tydelik verlamde Geduld inwoner skep bewusmaking
Bruce Piek is einde Februarie met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer.

‘n 60-Jarige man van Geduld het verlede maand die skrik van sy lewe gehad toe hy skielik verlam geraak het en met Guillain-Barré-sindroom (GBS) gediagnoseer is.
GBS is ‘n seldsame neurologiese afwyking waar die liggaam se immuunstelsel die senuweestelsel verkeerdelik aanval, wat spierswakheid en verlamming veroorsaak.
Die presiese oorsaak van GBS is onbekend, maar dit word kan vermoedelik deur infeksie, chirurgie of inentings veroorsaak word.
Volgens Bruce Piek het hy onlangs geen mediese behandeling gehad wat tot die seldsame afwyking kon lei nie. Bruce sê hy het ‘n paar dae voordat hy die tekens van verlamming getoon het, snaaks begin gevoel.
“Ek het vreemde hoofpyne ervaar en baie erge koors gehad. My regter been was die vorige dag in vreeslike pyn en ek het skielik van balans af gevoel.
“Die volgende oggend kon ek nie op my bene staan nie en ek het dadelik geweet dat daar groot fout is,” het hy gesê.
Bruce is kort daarna na die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal gehaas waar hy opgeneem en ondersoek was.
Nadat daar eers vermoed is dat Bruce ‘n beroerte gehad het, is daar na talle toetse vasgestel dat hy Guillain-Barré-sindroom het.
“Omdat my toestand so ‘n unieke geval is, wou al die dokters en studente my ondersoek. In die tyd wat ek in die hospitaal was, het my arms ook verlam geraak vir byna twee weke voordat ek hulle weer kon gebruik.
“Om letterlik oornag totaal en al afhanklik van iemand te wees is ‘n magtelose gevoel wat ek vir niemand kan beskryf nie. Niemand kon ook vir my sê hoe lank dit gaan vat voordat ek weer sal kan loop nie, alles is net skielik van my af weggevat.”
Hoewel Bruce se bene heeltemal verlam is, ervaar hy tog gevoel in sy bene en sê dat hy konstant in pyn leef. Die erge pyn en emosie belaaide situasie waarin Bruce homself bevind kry hom egter nie onder nie. Hy beoog om bewusmaking oor GBS te kweek juis omdat daar soveel onkunde oor dié sindroom is.
LEES OOK: Van kaptein in die SAPD tot kunstenaar
“Hierdie siekte is nie ‘n grap nie. Dit verander jou hele lewe en niemand praat daaroor nie, en daarom voel ek mense moet bewus gemaak word.
“Ek is ‘n hardkoppige mens en ek glo as ek nie was nie, en dalk vroeër by ‘n dokter uitgekom het, die graad van my toestand dalk nie so erg sou wees nie,” vertel Bruce.
Hy moedig mense aan om onmiddellik mediese bystand te kry en op die uitkyk te wees vir ongewone hoofpyne , wanbalans en gevoelloosheid in die vingers.
Hoewel die mat heeltemal onder Bruce uitgeruk is, klou hy vas aan sy geloof en sy positiewe gesindheid is wat hom daagliks dryf.
Hy sluit af met: “Ek weet dat ek weer sal kan loop, dit gaan miskien nie nou gebeur nie maar ek glo met my hele hart dat ek uit hierdie rolstoel sal kan opstaan.”
LEES OOK: Selcourt motorcyclist rides into history with seventh DJ Rally victory