Presidentia inwoner beseer ná hek haar vaspen
Die 8o-jarige inwoner van Presidentia het verskeie letsels tydens die insident opgedoen.
‘n Bejaarde vrou lei steeds aan skok en beserings nadat sy onlangs deur die hek by Presidentia Ouetehuis vasgedruk is.
Anita de Wet (80) het op 26 Maart ongeveer 14:00 van die winkel af terug gekeer toe sy tussen die hek en palisades vasgepen word.
“Ek het die knoppie gedruk en my kleindogter het voor gestap met die inkopies in haar hand. Alles het so vinnig gebeur en toe ek weer sien toe is die hek hier teen my besig om my vas te druk.
“Ek het so groot geskrik en nie eintlik geweet wat om te doen nie. Dit was eers toe Camila vir my skree om die knoppie te druk dat ek geweet het wat om volgende te doen.”

Volgens haar klein dogter, Camila de Wet (27), het dit baie vinnig gebeur en dat sy nie eintlik geweet het hoe om haar ouma te help nie.
“Ek het probeer om die hek te stop sodat dit haar nie verder druk nie maar ek het gesukkel.
“Dit was eerlikwaar nie lekker om te sien hoe my ouma so seer kry nie. My hart was in stukke om haar so te sien,” het Camila gesê.
Die hek het Anita se arm, been en kop vasgedruk en verskeie letsels veroorsaak.
LEES OOK: One woman’s journey to diagnosis, hope, and advocacy
“Ek het baie groot geskrik en ek het nie gedink ek gaan lewendig daar uit kom nie. Ek is net dankbaar dat die hek my nie dood gedruk het nie,” het ‘n baie emosionele Anita gesê.
Sy het vir dae lank na die insident erge hoofpyne ervaar en met seer spiere en verskeie letsels gesukkel. Dit is egter nie die eerste keer wat dié hek iets of iemand vaspen nie.
Die tehuis se hekke het in die verlede al telkemale teen motors vasgedruk en dit erg beskadig. Na bewering is dit al weke lank wat die hek soms nie heeltemal oopmaak nie en skielik weer toe gaan.
Die Stad van Ekurhuleni is in kennis gestel van die insident. Die Advertiser het ook navraag oor die stand van die hekmotors gedoen, maar teen druktyd was nog geen kommentaar ontvang nie.





