Plaaslike kunstenaar vind sukses in Country musiek
Mac Young is 'n trotste Afrikaner wat floreer wanneer hy Country sing.
Jan Jacobus Vermaak of beter bekend as Mac Young is besig om ‘n naam vir homself in die wêreld van Country musiek te maak.
Dié 46-jarige kunstenaar van Geduld Uitbreiding se lewendige verhoog persoonlikheid en unieke stem sorg dat elke optrede ‘n blywende indruk op die gehoor laat. Sy verhoognaam is in 2014 gebore toe hy na Texas uitgenooi is vir ‘n Country toekenning.
“Die eerste ding waaraan ek gedink het is hoe dit gaan klink as hulle my naam en van probeer uitspreek. Om Vermaak met ‘n Amerikaanse aksent uit te spreek eindig met Mac, en Jan en Young is ook naby aanmekaar en dit is hoe my verhoog naam gebore is en steeds na al die jare gebly het,” vertel Mac.
Musiek is iets waarmee hy groot geword het en hy het op die ouderdom van drie jaar reeds ‘n belangstelling in sang getoon.
Nie net is sy pa en boetie kitaarspelers nie, maar sy ma en sussie kan beide ook ‘n noot hou.
Hoewel sang altyd sy eerste liefde was, het Mac na skool onder meer teologie en sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaap gestudeer.

Hy het meer as ‘n dekade gelede besluit om professioneel te sing en en het die geleentheid om voltyds te sing met beide hande aangegryp.
“Ek is vandag baie geseën om nog steeds my droom te volg en te doen waarvoor ek lief is. Om iets te verdien en terselfdertyd vet pret te hê is fantasties,” sê hy.
Mac het al verskeie treffers geskryf en vrygestel. Hy is tans besig om drie nuwe enkelsnitte te skryf en beoog om hulle teen die einde van die maand vry te stel.
Wanneer hy nie self met ‘n mikrofoon of kitaar in die hand staan nie, bring hy graag tyd in sy ateljee deur waar hy musiek vir sy mede kunstenaars skryf.
Hy is ook nie bang om sy stem teen ander kunstenaars te meet nie en het al aan talle sang kompetisies deelgeneem.
LEES OOK: People, places and faces
“Ek dink dit is goed om aan sang kompetisies deel te neem en jouself te druk om te verbeter, maar terselfdetyd moet jy nie jouself met ander kunstenaars vergelyk nie want almal is tog uniek.”
Hoewel hy trots Afrikaans is, is Country die genre wat hy die meeste geniet om te sing en sê dat Country se storielyne en melodieë sy hart gewen het.
Dit is vir my lekker om te sien hoe mense my musiek geniet en ook om die gehoor te inspireer en weer moed deur middel van musiek te gee,” sê hy en voeg by dat die gevoel vir hom onbeskryflik is.
Hy droom daarvan om op die Grand Ole Opry verhoog in Nashville op te tree en beoog om in die toekoms ‘n groot Country treffer vry te stel.
Hy sluit af met: “Al is ek reeds ‘n kunstenaar, droom ek nogsteeds van groot verhoë en groot vertonings.”
LEES OOK: Presidentia inwoner beseer ná hek haar vaspen



