AfriForum Springs neem deel aan massapatrollie teen misdaad
AfriForum hou drie keer per jaar massapatrollies landswyd om hulle teenwoordigheid as veiligheid rolspeler te beklemtoon.
AfriForum het op 11 April ‘n massapatrollie gebied waaraan 177 buurt- en plaaswagte landswyd deelgeneem het en AfriForum Springs het nie geskroom om by die operasie betrokke te raak nie.
Die massapatrollie is aaneenlopend vanaf Vrydag om 16:00 tot Saterdag omstreeks 05:00 uitgevoer.
Dit het tot ’n rits arrestasies gelei vir onder meer die besit van dwelms, onwettige immigrasie, aanranding, besit van gesteelde goedere en die beskadiging van eiendom.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, is AfriForum massapatrollies nie net bedoel om hul teenwoordigheid as veiligheidsrolspeler in plaaslike gemeenskappe duidelik te maak of as afskrikmiddel vir potensiële misdadigers te dien nie.
LEES OOK: Springs gemeenskap draf om katte te help
Dié landwye operasies wat drie keer per jaar gehou word, dien ook as inoefening operasies om die mobilisasie en kommunikasie van die AfriForum nasionale netwerk van buurt- en plaaswagte se mobilisasie en kommunikasie op die proef te stel.
Die werksaamhede van die netwerk word tydens massapatrollies deur die AfriForum beheerkamers wat op verskeie plekke in die land geleë is, beheer en gekontroleer.
“Die aktiewe betrokkenheid van ons vrywilligers in hierdie massa inisiatief wat nou vir die eerste keer hierdie jaar aangepak is, wys weereens hoe noodsaaklik georganiseerde gemeenskapsveiligheid is in ’n land waar misdaad handuit ruk,” het Broodryk gesê.
LEES OOK: Sakevroue hou Springs se naam hoog by Woman of Stature toekennings
“AfriForum is trots op elke patrolleerder wat hul tyd en vaardighede opoffer om hul gemeenskap te help beveilig. Dít is waar ware veiligheid begin – by die gemeenskap self.”
AfriForum Springs het rolspelers van onder meer die GPF, Prosafe, CPI en SAPD by hulle patrollie betrek. Dié plaaslike patrollie het by die Springs Polisiestasie afgeskop waar die betrokke lede deur die loop van die aand deur Strubenvale, Geduld, Springs Uitbreiding, Rowhill en Daggafontein patroleer het.
“Die idee van ons patrollie was om te beklemtoon dat veiligheid in Springs ‘n prioriteit is.” het Petro Kirton, die voorsitter van AfriForum Springs, gesê.
Hy voeg by dit is belangrik vir die gemeenskap om te weet dat al die instansies saamwerk en opstaan om misdaad in die dorp te bekamp.



