KYK: Lede van VLU Carpe Diem leer oor selfoonfoto’s en heuningbye
Die Springs-tak van die VLU, Carpe Diem, het twee gassprekers verwelkom wat wenke oor selfoonfotografie en die waarde van heuningbye gedeel het.
Lede van Die Springs-tak van die VLU, Carpe Diem, het Woensdag by die AGS Fonteinedal-kerk in Geduld byeengekom, waar twee gassprekers die verrigtinge lewendig en insiggewend gemaak het.
Die eerste spreker, Barbara Nel, is ‘n lid van die VLU Overvaal streek. Sy het haar fotografie kennis met die lede gedeel. Sy het spesifiek op selfoonfotografie gefokus.
Sy het vertel oor die verskillende stellings op ‘n selfoon kamera en hoe om dit te gebruik om jou fotografie te verbeter. Sy het onder andere wenke gedeel oor invalshoeke, die beraming van jou onderwerp en beligting.
Sy het ook gepraat oor fokus en die reël van derdes, ‘n tegniek in fotografie om die onderwerp in ‘n derde van die foto te plaas om dit meer dinamies te maak.
“As jy nie die reël van derdes volg nie, doen eerder ‘vul die raam’,” het sy vertel
Vul die raam is ‘n ander tegniek waar die onderwerp van so naby af geneem word dat dit die hele foto bedek, met geen of min agtergrond. Sy sê dis ‘n goeie tegniek as mens geen twyfel wil hê oor wat die onderwerp is nie.
Daarna het Anel o’Neill gesels oor heuningbye. Sy is ’n byeboer met meer as 500 korwe en voorsien die hele jaar deur fynbosheuning.
Tydens haar praatjie het sy interessante feite oor die heuningby se lewensiklus en hul onmisbare rol in die natuur gedeel.
LEES OOK: Eight undocumented foreign nationals arrested across Ekurhuleni
Daarna het sy gelykenisse gestel tussen heuningbye en die vrou, aangesien die hele korf omtrent uit wyfies bestaan terwyl mannetjies net daar is vir voortplanting.
“Bye gaan op ‘n geestelike vlak oor gemeenskap en samewerking. Daar word altyd gefokus op die belang van die korf. Die VLU is soos ‘n gemeenskap van geliefkose gemeenskaplike bytjies,” het sy vertel.
“Partykeer gee ons so baie dat ons vergeet dat daar ‘n balans moet wees tussen gee en ontvang. Bye simboliseer balans, deursettingsvermoë en toegewydheid. Jy kan nooit alleen en op jou eie wees nie, en maak seker jy bestee jou tyd wys,” het
Anel mee afgesluit.




