News

Frans Swart vereer met Ster-toekenning by Roodepoort-teater

Bekende teaterman en Springs-inwoner, Frans Swart, is op Erfenisdag vereer met ’n Ster-toekenning by die Roodepoort-teater vir sy jarelange bydrae tot Suid-Afrikaanse teater.

Met dekades se toewyding aan die verhoog en ’n onmiskenbare bydrae tot die Suid-Afrikaanse teaterwêreld, is Springs inwoner Frans Swart op Erfenisdag vereer met ’n gesogte Ster-toekenning by die Roodepoort-teater.
Dié geleentheid was tydens die inwyding van die opgeknapte Roodepoort-teater, die bekendstelling van ’n koffietafelboek om die geleentheid te vier en ook die onthulling van die “walk of fame” waarmee 30 legendariese persone vereer is.
Swart, wat die besturende direkteur van Lefra is, sê dat dit vir hom ’n besondere eer en voorreg is om die toekenning te ontvang.

Frans Swart by die ster wat nou vir ewig sy naam sal dra.

“Ek ontvang hierdie toekenning in diepe erkentlikheid en dankbaarheid aan my Skepper, wat vir my die talente, gesondheid en krag gee om hierdie teaterberoep na te streef,” het Swart gesê.
Hy het ook die kunste- en teatergemeenskappe bedank.
“Sonder skrywers, akteurs, sangers, musikante, dansers en tegnici kan ons nie teater maak nie. Hierdie kreatiewe mense het nog altyd net vir ons die beste werk gelewer.”
Hy sê dat sy pad met die Roodepoort-teater ’n lang pad kom.

Titel: Frans Swart ster-toekenning
Caption: Al die legendariese persone wat tydens die geleentheid vereer is. Frans Swart staan agter (tweede van regs).
Foto: Verskaf
Beskrywing: ‘n groot groep mense staan voor ‘n area waar rooi sterre op die grond sigbaar is. Almal is deftig geklee.

“Oorlede Weiss Doubell het uitstekende werk hier gedoen om die Roodepoort-teater as opera- en klassieke musiekteater te vestig en het internasionale erkenning vir die teater gekry.
“Dit is ook wonderlik om te sien watter waarde die stad Johannesburg aan sy teaters, kuns en kultuur heg. Daarvoor salueer ek die Johannesburgse Metroraad dat hulle bereid is om soveel ondersteuning aan die Roodepoort-teater en ander Johannesburgse teaters te bied.”
Swart sê ook dat dit werklik jammer is dat baie van soortgelyke produktiewe stadsteaters nie meer operasioneel is nie.
“Plaaslike owerhede wat nie hul plig nakom ten opsigte van die stadsteaters in hul omgewing nie, moet werklik aangespreek word.
“Gaan leer by die Johannesburgse Metro. Dit is die plig van plaaslike owerhede om teaters te bedryf, te finansier en sodoende werk vir kunstenaars te skep.
“’n Teater in jou plaaslike omgewing mag nooit as ’n luukse gesien word en sommer summier van die begroting geskrap word nie.
“Inwoners moet opstaan en dorpe en plaaslike owerhede wat hulle teaters laat verlore gaan het, kritiseer en druk op daardie owerhede uitoefen.”
Op ’n vraag oor hoe sy tuisdorp (Springs) sy werk en kreatiewe visie beïnvloed het, verduidelik Swart dat hy ’n Vrystater van geboorte is maar dat hy homself in Springs tuisgemaak het.


 Frans Swart hou ‘n kopie van die koffietalfelboek, wat ook tydens die geleentheid bekend gestel is, en waarin hy verskyn vas.

“Springs het die wonderlikste mense en was nog altyd baie goed vir my,” vertel hy.
“Dis ook interessant hoeveel kreatiewe geeste uit Springs kom.
“Daar is byvoorbeeld Rina Hugo, die Radio Rats, Koos du Plessis, Arnold Geerdts, James Phillips en vele meer. “Springs is my hartsdorp. Ons bly heerlik hier en is weg van die stadsgewoel. So kan ons baie kreatief hier te werk gaan.”
Oor die behoud van teaters in dorpe voel hy baie sterk.
“Teater is in ’n oorlewingstryd op die oomblik en dit maak my vies. Na Covid wou niemand meer uitgaan na ’n teater toe nie, en wanneer iemand vir my sê hy of sy ry nie meer in die nag nie, wil ek die horries kry.
“Ek vra altyd: Maar het jou kar nie ligte nie?
“Juis daarom is dit vir my ’n persoonlike missie om teater steeds aan die gang te hou; hoe moeilik dit ook al mag wees.
“Die gevoel en onmiddellikheid van lewendige teater kan nooit met enige ander medium vervang word nie. Leer jou kinders om ’n liefde vir teater te kweek,” het Swart afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Springs Advertiser in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button