Vier jong lewens kry nuwe kans ná Fransie van der Berg se orgaanskenking
Fransie van der Berg se laaste geskenk het 'n blywende verskil gemaak te midde van sy familie se onbeskryflike hartseer.
Familie, vriende en ander belangstellendes het Donderdag, 12 November in ‘n volgepakte Lofoord Familie Kerk in Springs afskeid geneem van Frans (Fransie) van der Berg, wie se dood op 4 November aan breinvliesontsteking nie net groot hartseer gebring het nie, maar ook nuwe hoop aan vier jong lewens deur die skenking van sy organe.
Tydens die diens het begrafnisgangers na verskeie huldeblyke geluister.
In hartroerende boodskappe het sy ouers, Frans en Jeanine van der Berg, asook sy ouma, Belinda van Eck, hulde aan hom gebring.
Belinda het ook vir ‘n ligter oomblik gesorg toe sy vertel het hoe Fransie graag by haar huis rugby gekyk het en dat sy dan gewoonlik koek gekoop het.
“Eendag, nadat die Springbokke hul wedstryd gewen het, was Fransie so opgewonde dat hy die hele koek opgeëet het.

“Op pad huis toe het hy heeltyd in die spieël gekyk en my gevra of sy wange vetter geword het,” het Belinda vertel.
Die huldeblyke en boodskap tydens die diens het egter ‘n duidelike prentjie geskets van Fransie as ‘n geliefde kind wat die lewe voluit geleef het en gedurende sy lewe, maar ook ná sy dood, die lewens van talle mense aangeraak het.
Deur die skenking van sy organe het vier jong lewens ‘n tweede kans gekry.
Fransie se ma, Jeanine, het Maandag in ‘n boodskap aan die Springs Advertiser gesê dat daar, ten spyte van die onbeskryflike verlies, tog ‘n wonderwerk uit Fransie se dood voortgevloei het.
“Waardeur ons gegaan het, is vreeslik. Om ‘n lewe te verloor, is vreeslik. Ons het God gesmeek vir lewe, ons het God gesmeek vir ‘n wonderwerk, ons het by God gehuil vir lewe, en God het lewe gegee,” het Jeanine gesê.

Jeanine het verduidelik dat Fransie se organe geskenk is en dat twee jong kinders en twee babas volgens haar die ontvangers daarvan was.
“Ons het Maandag ‘n oproep van die hospitaal ontvang om ons mee te deel dat dit goed gaan met al vier die kinders,” het Jeanine gesê.
“God het ‘n wonderwerk laat gebeur. Hy het een kind gevat en vier lewens daaruit teruggegee. Dalk nie op die manier waarop ons dit wou gehad het nie, maar Hy het Fransie vir ‘n rede uitgekies, en daar het vier lewens uit my kind gekom.
“Kinders vir wie daar geen hoop was nie, het nou weer hoop op lewe danksy my kind. Daar het dus tog ‘n wonderwerk gebeur.
“Ons het dit dalk nie almal met ons eie oë gesien nie, maar daar hét ‘n wonderwerk gebeur,” het sy gesê.
OOK LEES: Springs gemeenskap in rou ná breinvliesontsteking die lewe van gewilde jong kind eis



