‘n Ster in wording
Hugie leerling se groot prestasie
Rynhardt Knoetze, ‘n Graad 11 leerling by Hoërskool Hugenote, is gekies vir die o/17 Tennis Suid-Afrika (TSA) Skolespan, wat in Junie na London en Skotland toer.
Hy het tennis begin speel op die ouderdom van nege en vreeslik baie daarvan gehou.
Sy ma Linda Knoetze vertel dat hy 12 jaar oud was toe hy aan tennis kompetisies begin deelneem het.
Hierdie Strubenvale inwoner het in 2012 aan die Gauteng-Oos Geslote kompetisie deelgeneem en het die seuns o/15 enkels en dubbelspel met sy spanmaat Cullen Andrews (Edenvale) gewen tydens die toernooi.
Verlede jaar het hy weer deelgeneem aan die Gauteng-Oos Geslote Kompetisie.
Daar was hy die wenner van die seuns o/17 enkels en het ‘n tweede plek in die dubbels met spanmaat Reinhard Steenkamp (Sunward Park) behaal.
Hy het ook die trofee ontvang tydens die Gauteng-Oos kompetisie as Senior Sportman van die Jaar.
Rynhardt is dan ook deel van die eerste span van die Selection Park Tennisklub.
Daar is hy ook deel van die mans afdeling Premier B wat wenners is van die Winter Liga
Hy het in Januarie by die Gauteng-North Key Health in die semi-finaal uitgeval in die o/16 afdeling.
“Dit was sy laaste kompetisie in dié afdeling aangesien hy nou in die Ope afdeling speel,” sê Linda.
Alhoewel Rynhardt baie lief is vir tennis, sê hy dit is baie harde werk.
“Ek sukkel eintlik om genoeg te oefen weens skool verpligtinge,” sê hy.
Om akademies goed te doen is vir hom belangrik, aangesien hy wil gaan studeer vir ‘n geoktrooieerde rekenmeester en wie weet dalk nog tennis ook speel verder in die toekoms.
Hy kies vir Roger Federer as rolmodel omdat hy altyd kalm is op die tennisbaan en homself soos ‘n ware heer gedra.
Ander professionele tennisspelers soos Novak Djokovic en Jo-Wilfried Tsonga is ook op sy gunsteling lys.
Daar is nie veel tyd vir ontspan nie, maar indien wel, speel Rynhardt graag X-Box en kuier so nou en dan by vriende.
Hy speel so af en toe golf en squash en hou baie van tafeltennis
Om die SA Span te haal was ‘n heerlike verrassing, maar tog ook ‘n skok want hy het dit glad nie verwag nie. “Dit was ‘n wonderlike gevoel.”
Petersfield inwoner Kobri du Preez, is huidiglik Rynhardt se afrigter.
“Hy het in die laaste jaar baie verbeter met sy styl en is ‘n aangename, rustige en gedetermineerde kind,” sê Kobri.
Dit is ‘n baie groot voorreg en prestasie dat hy dit gemaak het en ‘n kans in ‘n leeftyd om te kan toer.
Volgens Kobri is die plan om fondsinsamelingsprojekte te loods om sodoende vir Rynhardt te help om sy droom te kan bewaarheid.



