Luister na Sharoney se nuwe enkelsnit, 21 Vir Ewig
"Dit is die tipe liedjie wat jy orals sal wil luister – in jou motor, by partytjies, om die braaivleisvuur en selfs by die gym.”

Springs sangeres Sharoney het ’n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo op 27 Januarie vrygestel.
Die snit, 21 Vir Ewig, spog met ’n volwasse klank en is ’n unieke pop-nommertjie wat hemelsbreed verskil van dít waaraan aanhangers gewoond is.
Sharoney sê: “Hierdie snit val lekker op die oor en is ’n saamsingtreffer wat jou voete sal laat jeuk om te dans.
“Dit is die tipe liedjie wat jy orals sal wil luister – in jou motor, by partytjies, om die braaivleisvuur en selfs by die gym.”
21 Vir Ewig volg op die musikant se vorige gewilde vrystelling, Crush, wat baie goed deur die publiek ontvang is en steeds gereeld oor die radio gehoor kan word.
Fathom Media, saam met wie sy al ’n hele paar projekte aangepak het, was die kreatiewe brein agter die musiekvideo wat eersdaags op die kassie te sien sal wees.
Dié video spog met ’n vars, moderne aanslag en wys vir kykers ’n hele nuwe kant van die sangeres.
Jay Loots van Fathom Media sê: “Sharoney was nog altyd gewillig om nuwe dinge te probeer en ek glo dat hierdie ’n groot tree vorentoe gaan wees vir haar en haar loopbaan. Hierdie is net die begin.”



