Kuier saam met Grotman in die gemak van jou huis
Groet die Grotman 2 is Lefra se Kelderkonsert wat eerskomende Sondag
Groet die Grotman 2 is Lefra se Kelderkonsert wat eerskomende Sondag om 5nm in die gemak van jou eie huis geniet kan word.
In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vroue op komiese wyse uitgebeeld.
Vroue is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting) en mans steeds die jagters (van ’n bok tot ’n televisieprogram).
“Mans en vroue lag vir mekaar in Groet die Grotman 2. Dit is juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak,” het skrywer en regisseur Frans Swart verduidelik.
“Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ’n komiese wyse.
Also read:
“Die feit dat Grotman sy wêreld moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies,” het Swart gesê.
Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het – meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar.
Swart, wat al as die klugkoning van Suid-Afrika bestempel is, het die nuwe teks geskryf wat splinternuwe aksies tot gevolg het.
“Natuurlik moet ons by die teks hou, maar met Wynand van Vollenstee as Grotman weet mens nooit nie.
Also read:
Groet die Grotman so gewild as altyd
“Hy is ’n briljante akteur en lees die gehoor en pas ook sekere tonele aan om by die gehoor aan te pas. Mens weet nooit wat om te wagte te wees nie,” het hy gesê.
“Ons teatermakers moes vinnig buite die kassie begin dink. Ons was verbaas oor die goeie reaksie wat ons op ons Kelderkonserte ontvang,” het Swart gesê.
“Dit word elke Sondag om 5nm regstreeks aanlyn en digitaal vir die hele familie aangebied. Dis vir my lekker dat gesinne saamkom en iets groots maak van die konsert.”
Kaartjie besprekings kan by www.itickets.co.za gedoen word.



