CrimeNews

Snelweg-kapers sak weer toe

Die bakkie het saam met Havenga by die N4-afrit se verkeerslig stilgehou en “dis waar die moeilikheid begin het,” het Havenga gesê.

Die afgelope maand hoop klagtes van beide motor- en trokkapings wat plaasvind by die N12 en N4-snelweg afritte by Witbank Polisiestasie op.

In die jongste voorval op 17 Augustus het die kapers hul tande gewys vir die verkeerde slagoffer toe mnr. Isak Havenga te rats was vir drie onbekende verdagtes.

“Ek het gaan kuier by van my vriende in Del Judor en na ek weggery het, het ek ’n wit Bantam of Corsa bakkie my sien volg. Ek het niks verdag gedink nie en dus kan ek nie presies plaas watter maak voertuig dit was nie,” het Havenga vertel.

Die bakkie het saam met Havenga by die N4-afrit se verkeerslig stilgehou en “dis waar die moeilikheid begin het,” het Havenga gesê.

Hy het skielik ’n onbekende man aan die passasierskant van sy voertuig gewaar en toe in sy tru-spieëltjie gesien dat nog ’n man uit die wit bakkie klim en sterk op pad is na hom toe.

“Ek het die man wat by my venster kom staan het gevra wat hy soek en hy het so ewe nog geantwoord dat hy my voertuig soek,” het Havenga gesê.

Die een verdagte het ’n mes uitgepluk terwyl die ander verdagte die passesiersdeur probeer oopruk het.

CV432rs
Die wond wat mnr. Isak Havenga opgedoen het tydens ’n kapingspoging op die N4-afrit by die OR Tambostraat-brug op 17 Augustus.

“Die verdagte met die mes het sy hou ingekry en my oopgekloof met sy wapen, maar die booswigte kon nie hulle hande op my kar kry nie, want al die deure was gesluit,” het hy verlig vertel.

Hy het dit reggekry om van die kapers weg te jaag.

“My pa kom kuier al die pad van Botswana en dan gebeur dit! Mens is nêrens meer veilig nie,” het sy seun, ook Isak Havenga kwaad gesê.

Sowat 20 minute na Havenga se voorval het daar nog ’n soortgelyke voorval plaasgevind op die N12 snelweg.
Volgens die slagoffer was hy op pad na Nelspruit, toe ’n wit bakkie vir hom ligte flits.

“Ek het tot stilstand gekom want ek het gedink daar is iets fout met die lorrie wat ek ry. Ek het uitgeklim om te kyk toe ’n onbekende man op my toesak met ’n vuurwapen en aandring op die lorrie se sleutel. Ek was weerloos en het net alles gedoen wat vir my gesê is,” het mnr. John Madigade gesê.

Verder het hy bevestig dat nog twee verdagtes hul verskyning gemaak het en hom in die trok gedwing het.

“Hulle het ’n ent met my gery, my eers besteel en toe langs die donker pad afgelaai,” het Madigade angstig gesê.

Op 11 Augustus is ’n trokdrywer net na skemer deur ’n wit Volkswagen van die pad af gedwing. Die voertuig het na bewering ’n blou lig op sy dak gehad en die drywer het gestop.

Die drywer is deur twee onbekende mans genader. Een van die mans het glo reguit afgepyl op die drywer met ’n vuurwapen in sy hand. Die ander verdagte het na bewering na die trok se passasierskant geloop en die deur oopgeruk.
Daar word beweer dat die twee verdagtes aangedring het op al die trokdrywer se bankkaarte en al sy waardevolle besittings wat hy aan hom gehad het.

Witbank Polisiestasie se woorvoerder, kaptein David Ratau waarsku die inwoners om die basiese veiligheidsmaatreëls te implementeer en teen alle tye paraat te wees.

“Daar is ’n moontlikheid dat die polisie met ’n sindikaat te doen het, maar kan eers bevestig word as alle inligting verkry is,” het hy gesê.

Twee verdagtes is al in hegtenis geneem in verband met die kapings oor die afgelope maand.

LEES OOK:
Kapers sit jou in jou kattebak en gaan ‘cruise’
Verwag enige tegniek vir kapings

 
Back to top button