Local newsNewsSchool sportSchools

Plek op SA’s in 2 Taalfees-skyfskietskuts se visier

Twee van Taalfees se skuts gaan in September skouer skuur met die bestes in die land.

Die Suid-Afrikaanse skyfskietkampioenskappe sal vanjaar twee jong skuts van Laerskool Taalfees verwelkom nadat hulle vir die Mpumalanga-span gekies is.


Die negejarige Jurgens Jacobs en 11-jarige Lethabo Mokoena sal die provinsie in September in die o. 12-afdeling verteenwoordig.


Hoewel die twee skuts eers vanjaar met skyfskiet begin het en maklik as groentjies afgemaak kan word, het hulle reeds hul staal op die skietbaan gewys.

“My oupa was in die army en my pa het ook SA’s toe gegaan vir skyfskiet toe hy op skool was. So, ek wil skiet soos my pa en oupa,” het Jurgens gesê.


Hy het verduidelik dat hy voor ’n kompetisie kalm probeer bly.

“Ek hardloop nie rond nie en as ek die skietsaal ingaan, haal ek ’n paar keer diep asem.”

LEES MEES ’n eMalahleni-tiener is in ’n stryd teen tyd gewikkel om noodsaaklike bloedtoetse te ondergaan


Jurgens het ook met groot erns beklemtoon dat ’n geweer nooit na iemand gerig mag word nie.

Hy is vasbeslote om sy beste te lewer, want sy doel is om nommer een in die land te wees.


Lethabo het vertel dat hy rugby en hokkie probeer het, maar dat dié sportsoorte hom glad nie beïndruk het nie.

Die oomblik toe hy egter skyfskiet probeer het, het hy geweet dit is wat hy wil doen.

“Ek maak seker ek stel my visier reg, ek maak dan seker hoe hoog of laag die teiken is. Bo-op my pistool is ’n klein swart blokkie. Daardie blokkie gee vir jou die perfekte belyning. As jy dit reg doen, kan jy nie mis nie,” het hy gesê.


Hy het Jurgens se klem op veiligheid beaam.

“Rig jou pistool altyd weg van mense af en moenie jou vinger op die sneller rus nie.”


Lethabo se ma, Annah Mokoena, het gesê haar seun wou nog altyd by die weermag aansluit. Sy is self in die wetstoepassingsberoep.


Die twee skuts se afrigter, Tanya Steyn, het gesê die komende kampioenskap bring van die beste talent in die land bymekaar.

“Dit is altyd inspirerend om te sien hoe atlete hulself uitdaag en groei onder die kompetisiedruk. Dit is ook ’n tyd wanneer skuts meer gefokus is en meestal hul persoonlike rekords breek,” het sy gesê.


Steyn was self ’n skut en is al ses jaar by skyfskiet betrokke.

Sy is egter die afgelope jaar as afrigter werksaam en het die voorreg gehad om met skuts van verskillende ouderdomme en vaardigheidsvlakke te werk.

Sy het dié raad aan haar twee jong kampioenskapskuts gegee: “Fokus eerder op nou as op die uitslae. Wanneer jy konsentreer op jou roetine, asemhaling en die tegniek wat jy geoefen het, help dit om die druk te verminder. Vertrou jou voorbereiding, bly in die oomblik en benader elke skoot as ’n nuwe geleentheid.”

“Kalmte kom dikwels uit selfvertroue in die werk wat jy reeds ingesit het. Vergeet van dit wat verby is en fokus op dit wat voorlê.”

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

Epos: [email protected]

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button