Juandré se harde werk op die stoeimat word beloon
Juandré, wat op Mpumalanga-vlak afrig, is genomineer en ook verkies as hoof-afrigter vir die Grieks Romeinse-styl vir kadetstoeiers.
’n Doelwit kan oornag bereik word ás daar genoeg bloed, sweet en harde werk in die proses ingaan.
Vir Juandré Fivaz (33), ’n stoei-afrigter by Inyathi Stoeiklub is dit meer soos ’n droom wat waar geword het.
Juandré, wat op Mpumalanga-vlak afrig, is genomineer en ook verkies as hoof-afrigter vir die Grieks Romeinse-styl vir kadetstoeiers.
Afrigters moet ’n vlak drie gradering hê om te kwalifiseer.
Die kadetstoeiers gaan aan die Afrika Kampioenskappe in Algerië deelneem tussen 1 Februarie en 6 Februarie volgende jaar.
Die kampioenskappe word baie belangrik geag, aangesien dit ’n goeie platform is om te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in 2020.
Juandré is ’n baie hardwerkende afrigter en hy is tans besig om sy kadette voor te berei vir die kampioenskappe en sê, “ek is baie opgewonde oor die geleentheid wat ek gegee is. Dis ’n belewenis om die pad te stap saam met die kinders wat aan ’n baie groot kompetisie deelneem en om as afrigter in te tree, beteken alles omdat ek my kennis en ervaring kan deel en oordra aan die kinders”.
Juandré word gesien as ’n baie ervare afrigter deur die Suid-Afrikaanse Stoeifederasie en is bekend vir sy oefentegnieke en onwikkeling onder jong stoei-atlete.
