Oor twee weke moet Hennie du Plessis ’n spesiale bril kry en ’n maand daarna moet hy na ’n oogspesialis vir die maak van ’n spesiale kunsoog vir die misvormde kyker.
Die jaar het nie goed begin vir Hennie en sy vrou, Daleen na hulle Nuwejaarsdag deur gewapende mans aangeval is nie. Hennie het sy oog en byna sy lewe in dié aanval verloor.
Dié jonggetroude paartjie was net na middernag na hul huis in Uitbreiding agt onderweg nadat hulle vuurwerkvertoning oorkant die Portugese-saal bygewoon het. In Stevensonstraat moes Daleen, wat bestuur het, byna stil hou om deur ’n diep sloot wat glo oor die pad gegrawe is en nie weer ordentlik toegemaak is nie, te ry. Hulle kar is laag en sy moes versigtig oorry. Dit was ook baie donker, want die straatligte werk nie.
Skielik word die passasiersdeur oopgepluk en Hennie word uitgeruk. Die eerste messteek sak diep in sy regter bo-arm weg. Die tweede steek is dwarsdeur sy linkeroog, het die oogspesialis later bevestig.
Hy val op die grond, gesig ondertoe. Twee mans wat pette dra, val hom soos besetenes aan. Hulle kerf sy rug met 17 messteke.
Terwyl Hennie op die grond lê, sluit Daleen die motor af en spring uit om Hennie te help. Een van die aanvallers gee haar ‘n hou in die rug. Sy skop, skree en veg verbete en die aanvallers vlug.
Bloed stroom uit Hennie se oog, arm en rug – 19 steke in totaal. Sy kry hom in die motor en ry huis toe. Daar was sy hom en plak pleisters oor die wonde. Op sy oog sit sy ‘n nat waslap. “Die koppyn was vreeslik,” het Hennie onthou.
Hennie se baas kom haal die firma-voertuig en gee vir hulle geld om by ‘n dokter uit te kom. Die dokter stuur Hennie na Witbank Hospitaal waar ’n oogspesialis hom ondersoek, maar hy kan eers na twee geopereer word omdat die teater beset bly. ‘n Tweede operasie volg en Hennie bly vyf dae in die hospitaal.
In die hospital maak Daleen sy wonde skoon en plak pleisters op, want die hospitaal het nie voorraad nie.
Die paartjie het geen siekefonds nie en tussen hulle is daar drie kinders om te versorg.
As die straat rybaar was, was die Du Plessis-egpaar dalk nie so ’n maklike teiken vir ’n aanval nie.
In Uitbreiding agt is die volgende strate besaai met slaggate: Byron, Gray (met sy slaggat nr. 868), Van den Heever (slaggat nr. 392, Krige, Hettie Smit, Keats, Campbell, Tennyson, Visagie, Eugene Marais, De Kocklaan. Aan die kant van die Medco-gebou is die gras op die sypaadjie so hoog dat jy nie ‘n aankomende voertuig kan sien nie. In Oppermanstraat is daar ‘n diep gat in die skadu van ‘n boom. “Jy swaai uit en bid dat daar nie ‘n voertuig van voor af kom nie, want dan is dit kop-aan-kop,” het Jurgens Potgieter, gesê.
In Del Judor Proper is die slaggate net so gevaarlik,” sê Kitty Steyn. Daar is trouens geen woonbuurt waar die strate in ‘n goeie toestand is nie.
“Die slote en potholes is nou hi-jacking spots vir misdadigers” is Willem Nel van mening.