Jou normaal en my normaal is nie dieselfde nie
Staan ’n oomblik stil en plaas jouself in die skoene van ’n mamma wat in ’n informele nedersetting woon.
Daar gaan beswaarlik ’n naweek verby sonder dat die krag êrens in die Steenkoolstad af is.
Terwyl ons opgewen op WhatsApp kla en die een boodskap ná die ander met dieselfde refrein – “ons krag is af” – deursyfer, was daar ’n oomblik toe ’n gesprek tussen my en die Engelsman my gedagtes met 90° laat draai het.
Terwyl ons kla en mor, met ons oë vasgenael op die sekondewyser omdat die mislikepaliteit se twee ure en óns twee ure hemelsbreed verskil, is daar ’n harde realiteit waaraan ons selde dink.
Hoe op aarde funksioneer gesinne in informele nedersettings?
Hoe kry mammas dit reg om dag in en dag uit sonder elektrisiteit klaar te kom.
Vir ons is dit ’n paar uur van ongerief, vir hulle ’n daaglikse stryd teen die elemente.
As hulle koud kry, kan hulle nie eenvoudig ’n verwarmer aanskakel nie.
Ná ’n lang dag kan hulle nie net die ketel aansit vir ’n koppie koffie of die bad met warm water voltap vir ’n skuimbad nie.
Die daaglikse roetine is harde werk: hout bymekaarmaak, ’n vuur aansteek, daarop kook en water oor die vuur warm maak.
Daarmee saam dink ek dadelik aan die veiligheidsrisiko’s wat ’n vuur, brandende kers en primusstoof inhou.
Vir my en vir jou is dit wysers wat na ons sin té stadig die minute aftel. Vir daardie gesinne is dit ’n lewenswyse.
Ons is gou om op WhatsApp te spring en gal te braak, maar sodra die ligte aangaan, vergeet ons alte maklik dat ons gekla het.
Die Engelsman se “eish” rinkel in sy glasie whiskey terwyl hy, soos gewoonlik, ’n klippie in my gesprek gooi: “Dit is tyd dat die infrastruktuur van dié munisipaliteit behoorlik bekyk word.”
Sodra die elektrisiteit afgaan, maak hy vuur – dis mos nou ’n goeie verskoning om te braai.
Maar sy woorde, terwyl hy rustig vir my ’n rooietjie skink, ruk my tot stilstand: “Ons empatie het koud geword, want ons deel nie meer mekaar se leefwêreld en omstandighede nie. Ons meet ons ellende aan die internet wat af is en die vrieskas wat ontdooi. Ons het geleer om by mekaar se omstandighede verby te kyk, want óns krag was vir twee ure af.”
Die woorde het my laat besef, ons ingesteldheid word op die proef gestel wanneer ons vir ’n paar uur sonder krag sit.
Mamma, ja, jy daar in die informele nedersetting, ek haal my hoed vir jou af. My krag het aangekom en ek gaan aan soos normaal, maar jou normaal en my normaal is wêrelde van mekaar af.
*Hierdie is ’n opiniestuk en verteenwoordig die skrywer se eie mening, nie dié van Witbank Nuus nie.
READ MORE: Vosman SAPS probes shooting and carjacking in Kwa-Guqa Ext 10
The WAU Soirée branch celebrated the spirit of 67 Minutes by turning recycled tin lids into creative fridge magnets to spread kindness.
— WitbankNews (@WitbankN) July 25, 2026
Read more here: https://t.co/hn88QgzA0i#WitbankNews #emalahleni #wau #Soirée pic.twitter.com/JvoA5oFdSJ
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za