CrimeNews

Trixie weg na ‘waarskuwingskoot’ klap

“Ek het haar hoor tjank. Sy het na die voordeur toe gehardloop seker om hulp te soek... sy het daar reg voor my kinders doodgegaan.”

Me. Tanya van Rooyen se stem word sag as sy die laaste oomblikke van Trixie, die Jack Russel hondjie, herroep.

Van Rooyen het vertel hoe Trixie Vrydag 24 Januarie omstreeks 17:30 by hul erf (in die Reynorif omgewing) uit gehardloop het.
Die vyfjarige Jack Russel het glo na ’n huis oorkant in die straat gehardloop waar sy vir die bure se honde gestaan en blaf het.

Van Rooyen het vertel hoe die buurman ’n skoot  met ’n pellet-geweer afgevuur het en sy kort daarna vir Trixie hoor tjank het.
“My hart is baie seer,” het Van Rooyen gesê en meen dat haar sesjarige seuntjie en sewejarige dogtertjie nooit moes gesien het hoe Trixie naby die huis se deur kom lê en haar oë toemaak vir die laaste keer nie. “Sy was my dogtertjie se hondjie…”

Die buurman wat die skoot afgevuur het, het om verskoning gevra aan die familie. “Ek het nie bedoel om die hond te skiet nie. Dit was net bedoel om ’n waarskuwingskoot te wees,” het die man gesê. Hy het Maandag 28 Januarie in Witbank Landdroshof verskyn en die saak is uitgestel tot 23 April.

“Mense kan nie die reg in hul eie hande neem nie,” het inspekteur Mpho Mokoena van die plaaslike Dierebeskermingsvereniging gesê. “Die beskuldigde sal aangekla word volgens die Dierebeskermingswet no. 71, 1962.”

Mokoena het voorts gesê dat daar onder geen omstandighede met ’n vuurwapen, selfs ’n pellet-geweer, geskiet mag word in residensiële gebiede nie.

“Dis ook die eienaars se verantwoordelik om hul diere in die erf te hou,” het Mokoena gemaan en gesê dat daar verskeie maniere is om honde en rondloper diere van die strate af te hou – sonder om die dier te beseer.

“Klagtes kan ingedien word by die Omgewingsgesondheid Departement,” het Mokoena gesê en noem dat in gevalle wanneer die eienaars versuim om hul diere toe te hou in hul erf en dit dan ’n probleem raak vir ander inwoners, daar ook petisies geteken kan word, waarna die hond of dier dan weggeneem sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button