CrimeNews

‘Diewe weet wat hul doen’

“Hulle het presies geweet waar alles was,” meen besigheidseienaar, mnr. Cornelius van Antwerp, na daar onlangs by sy besigheid ingebreek is.

Maandag 26 Januarie is nog ’n inbraak in die industriële gebied gerapporteer en Van Antwerp vertel hoe die diewe die diefwering van die badkamervenster afgehaal en só toegang tot die gebou verkry het.

Die verdagtes het vinnig gewerk om net die duur toerusting uit te dra, soos: skootrekenaars, ’n mikroskoop en talle slypmasjiene/slypers (grinders).

Die verdagtes is onbekend en die polisie het tot dusver geen arrestasies gemaak nie.

Me. Selepe Maripana, wie onlangs ook ’n slagoffer van diefstal geword het toe haar voertuig verdwyn het, meen dat die diewe te vinnig is om te keer. Maripana vertel dat sy op Woensdag 28 Januarie in Walter Sisulustraat by die Nedbank parkeerarea gestop het om vinnig inkopies te doen. “Ek was net 30 minute besig en toe ek terug kom was die kar weg,” het sy vertel. Die wit Mazda bakkie met die registrasienommer: BRM 221 MP is steeds weg en polisie is op soek na die onbekende verdagtes.

Polisie meen dat diefstal in meeste gevalle vooruitbeplan is. Mense moet op die uitkyk bly vir verdagte voertuie wat in areas, veral naby besighede, rondry. Inbrake en diefstal moet ook by die polisiestasie aangemeld word sodat polisie ondersoek kan instel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button