Local newsNews

Liefde is…

Hoe omskryf mens liefde, ’n gevoel, ’n emosie…

Liefde is wanneer me. Christine Swanepoel (78) in haar wederhelfte van die afgelope 62 jaar se oë kyk en haar oë blink nog.
Liefde is wanneer mnr. Pieter Swanepoel (85) so skuifel-skuifel langs sy vrou inskuif en haar hand soek om vas te hou, dit is liefde.

Die Swanepoel-egpaar het op 26 Januarie hul huweliksherdenking gevier en nou deel hulle hul geheime van dié lang huwelik.
Ouma Christine het so vinnig vir Oupa Piet geloer en vertel dat sy eerste indruk van haar nie só romanties was nie, “Ek het koeie aangejaag toe die sjarmante, mooi man my die eerste keer raakgesien het,” het sy vertel. Haar pa het ’n melkery gehad en sy moes inspring om haar broer se werk te doen omdat hy haar pa moes help met ietsie anders. En dis toe juis dat Oupa Piet die vrou sien wat 62 jaar later trots langs hom sou sit en met almal hul liefdesverhaal deel.

Kupido het daardie dag op Ventersburg in die Vrystaat sy pyltjie reg in die middel van Oupa  Piet se hart ingeskiet.
Maar dit was nie so maklik nie, Oupa Piet se broer Hendrik het ook sy oog op die nooi gehad.

“Ons was eendag almal saam op die plaas en dis toe ek besluit om Hendrik af te sê en die blouoog vir my te vat. Dit was juis Oupa Piet se oë wat my hart gesetel was. Kyk mooi, die hemel is in sy oë vasgevang,” het Ouma Christine vertel.
Skaars ses maande later toe is dit kansel toe. Ouma Christine was toe net 17 jaar oud.

“Jy weet wanneer dit die regte een is,” het die twee amper gelyk gesê.
Oupa Piet reken Ouma Christine verdien ’n medalje, en sy op haar beurt het vertel dat die 62 jaar nie net maanskyn en rose was nie. Elke storie het mos sy eie duwweltjies in.

En hul geheim vir die lang huweliksreis is die enkele woordjie “saamwerk”.
“Ek en Oupa Piet doen alles saam, ons het saam in die tuin geskoffel, in die huis gewerk, kinders grootgemaak en kyk hierdie tafeldoek het Oupa Piet gehekel,” het sy trots na die spierwit tafeldoek op die tafel gewys.

So van kinders grootgemaak gepraat. Hulle is die baie trotse ouers van ses kinders, 15 kleinkinders en sewe agterkleinkinders.
“Die kinders is ’n storie op sy eie. Eers is Emmarentia gebore, gevolg deur Hendrik, Annatjie en Ina. Toe kom die groot verrassing, twee laatlammetjies Ockert en Pieter. Oupa Piet sê hoeka die trein het hom wakker gemaak dis hoekom daar twee laatlamme is,” het Ouma Christine met ’n koppie koffie in die hand vertel.

Oupa Piet het lank by die Gevangenisdiens as kaptein gewerk en Ouma Christine was ’n tuisteskepper wat vir ’n ekstra inkomste ook as ’n entrepreneur, onder andere goud verkoop het. Hulle bly al 40 jaar in eMalahleni.

Oral om hulle glimlag hulle kroos vanuit fotorame wat die sitkamer versier.
“Ons is ryk, skatryk,” het hulle gesê waar hulle styf langs mekaar op die bank sit, nes al daardie jare terug.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button