Local newsNews

Immergroen vier 50 jaar

Die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) Immergroen Ouetehuis vier vanjaar hul vyftigste bestaansjaar.

Van ’n instansie met slegs ’n paar inwoners in 1964 het dit gegroei tot die 145 inwoners wat huidiglik daar woon en versorg word.
“As welsynsorganisasie het dit oor die jare maar moeilik gegaan. Verskeie fondsinsamelingsprojekte is van stapel gestuur en so het Immergroen oorleef. Danksy die inwoners van die stad , wat ons gereeld ondersteun, is daar van ons fondsinsamelingsprojekte ’n sukses gemaak,” het mnr. Albert Williams, bestuurder van Immergroen Ouetehuis, gesê.

Op Vrydag 7 Maart word nog een van Immergroen se fondsinsamelingsprojekte aangebied, naamlik hul jaarlikse basaar.
Die basaar vind op die terrein van die NG Kerk, Witbank-Suid (Trappieskerk) plaas en begin reeds om 16:00.

Koop sommer u aandete daar dié aand. Daar is heerlike worsbroodjies, kerrie-en-rys, snoek, afval (moet vooraf bestel word), snoek, pannekoek, koek, tert en verskeie soorte poeding te koop.

Onthou alle fondse wat ingesamel word, word aangewend tot voordeel van die inwoners van Immergroen.
So ’n basaar is natuurlik ’n versamelpunt van vriende en kennisse – ’n reünie van almal wat u dalk lanklaas gesien het.
’n Ander projek waaraan Immergroen verlede jaar deelgeneem het en gebaat het by, is die Tekkie Tax-konsep.

Dit is ’n landswye projek wat op 30 Mei, nasionale Tekkie Tax-dag gevier word en waaraan verskeie welsynsorganisasie deelneem en afhangende van verkope, fondse ontvang.

Die projek behels die aankoop van plakkertjies teen R10, gekleurde skoenveters teen R30 en ’n T-hemp teen R110 wat op 30 Mei gedra word ter ondersteuning van die projek.

“Ondersteun asseblief die mense wat die goedere vir Tekkie Tax verkoop, want sodoende help u ook vir Immergroen wat dan ’n gedeelte van die geld ontvang,” het mnr. Williams gevra.

Vir enige navrae oor Immergroen se projekte, skakel 013 690 2793/4.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button