Ses dekades se liefde nog soos gister
Hy maak tuin en haar hande is besig met die fyner kunsies van borduurwerk. Na 60 jaar vind hul nog ’n glimlag vir mekaar as die een die ander se oë vind.

Nick en Lettie van Burick het hul sesde dekade saam gevier op Donderdag 6 Maart.
Hoewel die egpaar al soveel jare getroud is meen Nick dit voel “sommer soos nou die dag” wat hul ontmoet het.
“Ek het daai jare nog in Pretoria gewerk en deeltyds studeer,” begin Nick dan vertel.
Lettie, ook ’n student, het destyds by Foschini’s gewerk en die twee het hulself in dieselfde losieshuis bevind.
“Ek het in die aande studeer van 17:00 tot 22:00,” onthou Nick dan. “Sy…” kyk hy met heimwee na Lettie “…het my jammer gekry en het vir my kos gebêre vir wanneer ek dan eers laat by die huis kom.”
Nick het vroeg al besef dat Lettie sy sielsgenoot is en het, sonder om stokkies om te draai, haar gevra om te trou. “Dit was nie juis romanties nie,” het Nick erken. Lettie glimlag dan net vir hom, asof om te sê: romanse is ook nie alles nie.
Die paartjie is toe in 1954 getroud en het later na eMalahleni verhuis.
Nick sal nog deur oud-skoliere onthou word as onderwyser toe hy in 1962 by Hoërskool Generaal Hertzog Afrikaans gegee het. Hy het verder studeer (wiskunde en rekenaarwetenskap) en later ook wiskunde by die skool aangebied.
Nick en Lettie is die trotse ouers van vyf kinders. Die jongste het hul aangeneem na hul oudste seun reeds gematrikuleer het – en hulle sal altyd die trotsste wees op daardie besluit. Hul spog nou met 14 kleinkinders en nog vyf agterkleinkinders.
As mens die egpaar vra wat die geheim is vir ’n lang suksesvolle huwelik, lag Nick en meen hul moet ’n medalje kry vir die prestasie en voeg by: “As sy my kwaad maak, gaan ek tuin toe,” hy waai dan met sy hand om die pragtige groen tuin te wys waarin hy al baie tyd bestee het.
Lettie lag net vir Nick en sê: “Ek hou hom besig!”
Nick knik sy kop om te wys hy stem saam. “Sy was nog altyd ’n bedrywige entjie mens. Betrokke by Immergroen, die Vrouefederasie, ensovoorts.”
Hulle meen dan die geheim om so saam ‘jonk’ te bly is om baie geduld te hê, sowel as om die verstand besig te hou.
Lettie is kunstig en is gereeld besig met borduurwerk, piouter (pewter) en tot kunste met glas. Verskeie van haar geraamde kunswerke versier hul huis om dan net so mooi te pas by Nick se pragtuin. Nick geniet dit weer om te lees of dan sudoku blokke in te vul, terwyl Lettie langs hom sit en werk.
“Lank gelede voel soos gister… en gister kan mens soms nie onthou,” is Nick se mening as hy dan so diep in gedagte sit en terug dink aan die 60 jaar saam met sy Lettie.
Vir ewig bly hul liefde soos gister, 60 jaar gelede.