
Mnr. Ainslie Vosloo (61) het vertel hoe hy Woensdag 16 April vier inbrekers in sy huis, in Die Heuwel, betrap en hul verskree het.
In die vroeë ogendure, verduidelik Vosloo, het hy wakker geword van die huisalarm se skree in sy ore. “Vier van hulle het ingekom deur die skuifdeur,” het Vosloo vertel en gesê dat die verdagtes deur ’n veiligheidshek gebreek het en toe die slot van die skuifdeur ook afgebreek het om toegang te kry tot in die huis.
Vosloo het homself na die leefarea gehaas waar hy die vier verdagtes toe gewaar en op hul gebulder en geskree het. “Ek het nou nie baie mooi woorde gebruik toe ek so op hul geskree het nie,” het Vosloo na die voorval vertel. “Ek kan my stem baie hard en duidelik maak.”
Dit het die gewenste effek gehad en het die inbrekers heeltemal onkant gevang. Hulle het toe eerder die hasepad gekies, maar nie voordat hulle die televisie gegryp het nie. Vosloo onthou dat hul vinnig oor die mure geklouter het om uit die erf te kom.
“Hulle het eintlik meer skade gemaak om in te kom as wat dit my gaan kos om ’n ander TV te kry,” het Vosloo gesê.
Vosloo vertel dat in die drie weke wat hy woonagtig is in sy nuwe tuiste in Die Heuwel, was daar reeds drie vorige voorvalle waar die kwaadoeners probeer inbreek het.
“Ek het hul al drie keer in die erf betrap, maar hulle kon nooit by die huis inkom nie. Die vierde keer was hul nou ongelukkig suksesvol.”
Vosloo het ten slotte gesê dat hy dankbaar is vir die alarmsisteem wat afgegaan het om hom te waarsku teen die booswigte. “Hier is nie waghonde buite nie. Die enigste waghond hier is ek.”
Die verdagtes is onbekend. Die saak word deur die polisie ondersoek.
