Van Kraayenberg onthou hoe hy Maandagoggend 2 Junie, omstreeks 11:00, in Blanchville na ‘n nabye winkel geloop het. “Ek het net ‘n paar goedjies by die winkel gaan koop vir my dogter om kos te maak,” het Van Kraayenberg vertel en gesê dat hy oppad terug na sy huis toe was met die enkele inkopie-sakkie toe ‘n jongerige man hom voorgekeer het. “Hy het gesê: ‘gee die pakkie!’ – wat ek toe dadelik gedoen het.” In plaas daarvan dat die verdagte gevlug het, het hy Van Kraayenberg aangeval en ook sy beursie gegryp.
“Hy het my op die grond neergegooi en half bo op my geklim”. Van Kraayenberg het probeer terug baklei en vertel hoe hy ‘n leë bierbottel wat naby gelê het in die hande gekry het en sy aanvaller probeer slaan het. “Ek het hom daarmee geslaan, maar dit het nie eers gelyk asof hy dit gevoel het nie.”

Na wat vir Van Kraayenberg soos ‘n ewigheid gevoel het, het die verdagte uiteindelik gevlug met sy inkopies en beursie (met bankkaarte, kontant, pensioen-kaart, bestuurslisensie, ensovoorts).
“My oorlede vrou se beursie lyk presies soos die een wat hy gevat het.” Van Kraayenberg het met bewerige seer hande oor die ander leerbeursie gevryf. “Ek het dit vir ons as ‘n paar gekoop.”
Enigiemand wat inligting het oor die aanvaller of gesteelde beursie word gevra om die polisie te kontak.
