CrimeNewsUpdate

Polisie bly weg ná aanval

Nadat ’n man 10 weke gelede op sy plaas aangeval is, het hy nog geen taal of tyding van die polisie ontvang nie.

Nog geen polisieman was eers op die toneel waar mnr. Frik Bodenstein (58) en een van sy werkers, net bekend as John, op 15 April ’n aanval oorleef het nie.

“Daar was wel ’n polisieman by my toe ek nog in die hospitaal was, dit was die laaste wat ek nog van hulle gehoor of gesien het,” het Bodenstein vroeër die week vertel.

Bodenstein het gesê die polisie sou nie die plek waar hulle aangeval was kon kry sonder om eers by hom aan te klop nie, “As jy nie weet waarheen om te gaan nie sal jy verdwaal”.

Bodenstein en John het daardie oggend soos gewoonlik petrol uitgevat het vir die trekker en sae. Hy maak houtskool op die grond wat hy van ’n myn huur.

’n Hek wat normaalweg oopstaan het sy aandag getrek en hy moes uitklim om dit oop te maak. Terwyl Bodenstein besig was om die hek oop te maak, het ’n rower te voorskyn gekom en ’n pistool op hom gerig.  Bodenstein is toe van agter af deur nog ‘n rower oor die kop geslaan. Die vier rowers het Bodenstein aanhoudend geskop en geslaan, een van hulle het hom drie keer oor die kop geslaan met die plat deel van die panga en ook in sy gesig daarmee gekap.

Mnr. Frik Bodenstein is drie keer oor die kop geslaan met die plat deel van ’n panga.
Mnr. Frik Bodenstein is drie keer oor die kop geslaan met die plat deel van ’n panga.

John is van die bakkie afgepluk en ook geslaan. Die twee mans is vasgebind en in die nabygeleë bosse ingesleep waar die rowers Bodenstein se selfoon, bankkaart en selfs sy sakdoek gevat in die bakkie geklim en weggejaag het.

Bodenstein en John het mekaar losgemaak en na die naaste werkerskamp sowat 2km verder gestap.
“Dit was ’n wraakaanval,” het hy tydens ’n onderhoud op 22 April gesê.

Bodenstein het gesê dat hy een van die saag-operateurs wat by hom in diens was huis toe gestuur het nadat hy probleme met hom ondervind het. Hy het gereël om sy loon Vrydag 11 April aan hom te betaal. Die werker het egter gevra dat hy sy loon die daaropvolgende Dinsdag kan kom haal.

Hy het die spesifieke werker Dinsdagoggend langs die pad gekry en gevra het om net daar te wag sodat hy eers net die ander werkers aan die gang kan kry. Hulle is kort daarna aangeval.

” Die spesifieke werker was nie onder die rowers nie, maar ek is seker hy het iets te doen gehad met die beplanning van die aanval.”
Bodenstein het intussen ’n foto van die werker gekry, maar hy het sy vertroue in die polisie verloor.

“Die enigste mense wat my na die aanval geskakel het was die WITBANK NUUS. Dis ’n riem onder die hart dat julle soveel belangstelling toon,” het hy gesê.

Brigadier Sifiso Cele, stasiebevelvoerder van Witbank Polisiestasie  was Dinsdag 24 Junie in Nelspruit. Hy het wel ’n afspraak Woensdag
25 Junie met WITBANK NUUS gemaak om die saak en die polisie se sleepvoet onder die vergrootglas te plaas.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button