Volgens die klaer, wat anoniem gehou word om die kind te beskerm, het sy al voorheen vreemde merke op die seuntjie se lyfie waargeneem.
Sy het in haar verklaring aan die polisie gesê dat sy gereeld na die seuntjie kyk omdat beide sy ouers skofte werk.
Sy het genoem sy het bloed in die seuntjie se neus gesien, foto’s daarvan geneem en die seuntjie se ma gevra wat aangaan.
Die ma het glo aan haar gesê die seuntjie het uit ’n kar geval.
Die vrou wat na die seuntjie omgesien het terwyl sy ouers werk het gesê die seuntjie het Maandag 7 Julie van haar dogtertjie se fiets afgeval en sy beentjie beseer. Sy het die seuntjie na ’n dokter geneem.
Kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder het gesê dat die saak hoë prioriteit deur die SAPD se Gesinsgeweld-; Kindermishandeling- en Seksuelegeweld-eenhede geniet.
“Ons kan nog nie bepaal waar en hoe die seuntjie seergekry het nie en daarom kan ons nog nie arrestasies van enige aard maak nie. Die maatskaplike dienste het die seuntjie dadelik in veilige sorg geplaas,” het kapt. Hall gesê.