CrimeNews

Kontrakteur waarsku teen huisrowers

“Ek sê vir my vriend: ‘hier het nou net iemand verby die venster geloop’… toe is hul in die huis – ’n paar met pistole en die een met ’n R5.”

Mnr. Paul Nel herhaal weer die gebeure wat Donderdagaand 10 Julie plaasgevind het toe vier gewapende rowers hom en drie van sy vriende beroof het. As ’n kontrakteur, vertel Nel, huur hy saam met ’n paar van sy vriende en kollegas ’n huis in Del Judor. “Ons het net by die huis gekom so rondom 19:30,” herroep Nel. Nel vertel dat die voordeur van die huis oopgestaan het na hul ingekom het van die gebeure wat so vinnig gebeur het dat hul nie kans gekry het om te reageer nie.

Nel het skaars beweging by die vensters gewaar voordat vier mans die huis binnegestorm het.
Almal was gewapen en, volgens Nel, was hul geklee in donker klere en jasse. “Die een man, wat ’n R5 by hom gehad het, het ’n ou polisiejas aangehad,” onthou Nel dan. Die verdagtes het Nel en sy vriende forseer om op die vloer te lê en hul toe met kabelbinders vasgemaak. “Hulle het nog gesukkel om my hande vas te kry en het drie ‘cable ties’ gebruik,” vertel Nel en onthou hoe die rowers genadeloos op sy arms getrap het om hom vas te hou, terwyl hulle gedreig het dat hul hom sal dood maak.

“Hulle het ons toe deursoek en ons beursies, selfone, horlosies en alles wat ons by ons gehad het gevat. Hulle het ook die sleutels van ons karre gevat en die karre deursoek waar hul ’n ‘laptop’ en ‘tablet’ gekry het.”
Die rowers het vlugtig die res van die huis deursoek vir nog waardevolle items voor hul verdwyn het. “So vinnig soos wat hul gekom het, so vinnig was hul weg.”

Na die voorval het Nel onthou dat hy vroeër ’n groen Toyota Corola naby hul huis opgemerk het. “Ek het met ons bure gepraat en hulle het bevestig dat hul nie gaste die dag gehad het nie.”

Nel meen dat daar ook ’n paar dae voor die voorval ’n wit Mercedes opgemerk was voor hul huis en in die straat. Een van hul bure het vertel dat die man in die Mercedes ook gevra het na die huis waar ‘’n kontrakteur’ bly.

“Dit lyk vir my asof hul veral gastehuise en plekke waar kontrakteurs woon teiken,” meen Nel dan.
Die verdagtes is steeds onbekend en inwoners word gewaarsku om op die uitkyk te bly vir verdagte voertuie en persone en dit dadelik by die polisie of buurtwag aan te meld.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button