Mnr. Derick Steyn, een van die werknemers by die veeboerdery het vertel dat die diere moontlik Woensdagaand 9 Julie gesteel is. “Ons het eers die volgende oggend agtergekom dat hul weg is.”
Die ingewande van die beeste wat gesteel is, is naby die plaas in ’n veld gevind waar die vee vermoedelik geslag is vir hul vleis. “Hulle het sowat 24 beeste probeer steel. Negentien van die beeste is met ’n mes of panga gekap, maar lewe darem nog,” het Steyn verder vertel.
Volgens Steyn is dit nie die eerste keer dat vee gesteel word nie. Dit gebeur glo kort-kort en veral kalwers.
Steyn is van mening dat inisiasieskole wat handuit ruk dalk die oorsaak kan wees vir die toename in veediefstal. Of daar wel ’n verwantskap is tussen die toename in veediefstal en die inisiasieskole is, kon egter nie met sekerheid vasgestel word nie.
Die saak word deur Witbank Polisie ondersoek.
