Optel baba vier eerste verjaarsdag
‘Here se geliefde’ babatjie vier eerste verjaarsdag saam haar nuwe mamma.
Die groot swart ogies blink bo twee plomp wangetjies. Dis ’n gesiggie van ’n gesonde 12 maande oue dogtertjie wat op haar mamma se skoot sit.
’n Jaar gelede op ’n besondere koue Oktober-oggend in Phola/Ogies het die klank van ’n baba se geween voetgangers gelok na ’n klein bondeltjie in ’n oop veld. ’n Pasgebore babadogtertjie het op die growwe grond gelê tussen die lang nat gras, haar huilende stemmetjie dof en broos na ’n aantal ure in die oop koue lug.
Die verbygangers het dadelik die kleinding opgetel en hulp gaan soek.
Dis hoe klein baba Jedidja, ‘Geliefde van die Here’ in die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) se sorg geplaas was.
Me Anet Jansen, ’n koördineerder vir die CMR en Rizpah Bediening, kan nog onthou hoe sy die klein bondeltjie in haar arms gehou het by die Pottebakkershuis waar baba Jedidja ’n tydelike tuiste gevind het.
“Sy is ’n geskenk van die Here en sal altyd kosbaar bly,” was Anet se woorde…
Verlede week, op 13 Oktober, het dié kosbare kindjie haar eerste verjaarsdag gevier saam met die mamma wat haar aangeneem het.
Daar was groot opgewondenheid toe sy en haar mamma ook weer by die Pottebakkershuis kom kuier het op 19 Oktober saam met die mense wat so lief geword het vir Jedidja.
“Mense dink omdat dit nie jou eie vlees en bloed is nie, ’n mens nie so lief kan wees vir ’n kind nie. Maar ek het hierdie kind net so lief soos my eie…” het die mamma vertel en haar een-jarige dogtertjie styf vasgedruk.
Die babatjie oor wie engele gewaak het in ’n oop veld het opgekyk na haar mamma.
Die klein lippies tussen die vol wangetjies het die mooiste glimlaggie gevorm soos sy haar een handjie laat rus het teen haar ma se bors, naby haar hart… naby die Here se hart.
