CrimeNews

Kamera-boewe en toe die verdagte ‘kliënt’

’n Paar dae na ’n vrou se kamera uit haar voertuig gesteel is, word ’n verdagte persoon weer opgemerk by dieselfde besigheid waar die voorval plaasgevind het.

Dinsdagoggend 20 Mei het me. Elsabé Bosch vertel hoe sy vlugtig by Klipfontein Grassnyers in Watermeyerstraat was. “Ek het die bakkie reg voor die deur geparkeer,” het Bosch vertel en gesê dat haar Isuzu bakkie ook die enigste voertuig was voor die perseel daardie tyd.
“Ek het met my rug na die deur gestaan by die toonbank, seker so 15 meter van waar die bakkie buite gestaan het,” het sy verder verduidelik.

Na Bosch teruggekeer het na haar voertuig minute later, het sy met ’n skok besef dat haar kamera en lense spoorloos uit die motor verdwyn het. Volgens Bosch het sy beslis haar voertuig gesluit en meen dat die verdagte(s) ’n immobiliseerder of toestel moes gebruik het wat verhoed het dat die deure wel toesluit met haar afstandbeheer sleutel.

Beeldmaterial van ’n sekuriteitskamera buite Klipfontein Grassnyers het gewys hoe ’n verdagte man, net na Bosch by die besigheid in was, langs haar voertuig gestaan het. Alhoewel die materiaal (vasgevang op ’n selfoon) nie so duidelik was nie, wil dit voorkom of daar nog ’n verdagte by die voertuig kom staan het terwyl die ander man verdwyn het en ’n minuut later weer verskyn het onder die lens terwyl hy die gesteelde kamera in ’n rugsak sit.

Twee dae later op Vrydag 22 Mei, het werknemers by Klipfontein Grassnyers vertel van nog ’n voorval wat hul baie agterdogtig gevind het. ’n Verdagte man was opgemerk, wie dié dag in en uit die perseel beweeg het. “Hy het so net na 08:00 saam met ’n dokter hier ingekom,” het me. Petro Abraham vertel. “Toe ons hom vra of ons met iets kon help het hy gesê dat hy saam met die dokter is. Drie ure later was hy weer terug en het weer saam met ’n kliënt ingeloop en gesê dat hy nou saam met dié kliënt is.”

Abraham’s vertel dat hul agterdogtig begin raak het toe die man vir die derde keer weer terug was agter ’n ander kliënt aan. “Toe hy nou weer vir die vierde keer teruggekom het, het ons die bestuurder geroep en gesê dat ons die paniekknoppie gaan druk om die alarm te aktiveer. Toe maak hy baie vinnig spore.”
Abraham vertel dat beeldmaterial van die sekuriteitskamera’s in die winkel wys hoe die man reg in die lens kyk en vermoed dat die verdagte miskien kom rondkyk het juis om te sien hoeveel sekuriteit daar binne die winkel is.
Die verdagte man word beskryf as lank en maer. Hy was die dag gesien met ’n khaki broek en swart hemp. Abraham beskryf ook dat die man ’n baie skerp vuil reuk gehad het.

Polisie waarsku besighede veral om oplettend te bly vir verdagte persone wat hulself voorgee as kliënte en gedurig naby besighede gesien word.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button