Local newsNewsSchools

Leerders in hegtenis geneem na aanval

Dié aanranding het omstreeks 13:45 net om die draai van dié skool plaasgevind.

Twee leerders van ’n plaaslike skool is in hegtenis geneem na ’n aanval op medeleerders.

Die twee leerders is Vrydag 14 Augustus gearresteer en het Maandag 17 Augustus in Witbank Landdroshof verskyn op klagtes van aanranding en roof.

Al die leerders word anoniem gehou omdat hulle minderjarig is.
Dié aanranding het omstreeks 13:45 net om die draai van dié skool plaasgevind.
’n Daaglikse roetine, soos huiswaarts keer na skool, het nou in ’n nagmerrie ontaard vir die twee slagoffers.
Die twee leerders onderskeidelik 15 en 16 jaar oud is té bang om in die middae huis toe te loop.

“Die skool het net uitgekom en ek en my vriend was op pad huis toe. Voor die winkel net om die hoek van die skool het ons die agt seuns gesien. Twee was bekend want hulle is in ons skool. Ons het nie moeilikheid verwag nie” het die 16-jarige die gebeure geskets.

Hy het vertel dat alles in ’n oogwink in chaos ontaard het toe die groep van agt hulle weg versper het.

“My eerste instink was om my foon vas te druk. Ek het gesien hoe my vriend ook sy foon vasdruk. Die volgende oomblik toe waai die vuiste. Uit die hoek van my oog het ek gesien hoe hulle my vriend van sy fiets afslaan.”

Die 16-jarige wat ’n diabeet is het gevoel hoe iets wat hy beskryf het as koue staal, deur sy lyf skeur. Een van die groep seuns het daarin geslaag om sy insulien uit sy skooltas te gryp en het hom met die naald probeer steek. Intussen het die houe op sy vriend gereën.
Lede van die publiek het die aanval gesien, gestop en die groep seuns het weggehardloop. Twee van die verdagtes is gearresteer.

Die 15-jarige seun se ma het vertel dat haar seun sukkel om te slaap, en selfs weier om alleen te slaap.

“My seun was op sy fiets toe die aanval plaasgevind het. Ek het gereël dat hy nou in die middae met die bus huis toe ry. Hy is bang om nou op sy fiets te ry.”

Die ma het gesê sy was wreed ontnugter toe sy Vrydagmiddag by die polisiestasie opgedaag het.
Die polisie was op die punt om die twee verdagtes vry te laat.

“Ek was briesend. Net ’n paar uur voor dit was hulle baie braaf toe hulle die twee seuns aangeval het, nou wou hulle net by die polisiestasie uitstap. Dit is onaanvaarbaar. Sy kom net betyds gekeer dat die verdagtes vrygelaat word”.

Kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder het op die polisie se optrede gereageer: “Ons mag volgens die kinderwet nie minderjariges in die selle aanhou nie, so die saak is geopen volgens standaard prosedure en dan word die jeugdiges in die verantwoordelikheid van hul ouers vrygelaat. Die ouers het dan die plig om die beskuldigdes die volgende dag hof toe te neem en daarna solank as wat die saak duur by die hof”.

Hy het gesê dit is belangrik dat die publiek besef dat die polisie nie straf nie maar slegs ondersoek. Dit is die plig van die hof om te straf indien bewys kan word bo redelike twyfel dat die beskuldigdes die misdaad gepleeg het.

“In die Suid Afrikaanse regstelsel is ’n verdagte onskuldig totdat hy skuldig bevind is in die hof,” het kapt. Hall gesê.

Die 16-jarige is net die dag voor die aanval uit die hospitaal ontslaan nadat sy suikervlakke weer gevaarlik laag gedaal het. Hy was ’n week lank gehospitaliseer.

“Ek het Vrydag teruggaan skool toe om eksamen te skryf en my agterstallige werk in te haal,” het hy gesê.

Die verdagtes het die 16-jarige se ID boekie en sy beursie gesteel.
Die hoof van die skool het gesê die polisie hanteer die saak. Die skool is nie by magte om enige kommentaar te lewer nie.

’n E-pos is aan mnr. Jasper Zwane van die Departement van Onderwys gestuur vir kommentaar oor die voorval. Hy het egter nog nie op die e-pos gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button