
Rou riool doen weer sy “rondte” deur die strate van eMalahleni.
Die afgelope week is daar glo meer as ses huise in Uitbreiding 8 wat in riool gedemp is.
Inwoners is moeg gekla en raadop oor die riool wat al van Dinsdag, 20 Oktober die strate bedek met menslike afval.
Mnr. Tom Opperman is een van talle inwoners wat ’n slagoffer is van riool in sy erf,
“die riool stroom nie meer nie, maar verspoel my grasperk en niks word gedoen nie,” het Opperman gesê.

Riool wat vanaf 20 Oktober in Van Bruggenstraat af spoel.
Nog inwoners het hulle mening gelig oor die walglike toestand waarin hulle moet lewe op die sosiale netwerk, Facebook.

Die riool begin nou uit die inwoners se erwe stroom.
“Die riool voor my hek het al droog geword en weer verspoel. Dis onaanvaarbaar ek meen almal is geregtig om in ’n skoon en gesonde omgewing te bly, maar lyk my nie in eMalahleni nie,” het me Anita Erasmus op sosiale media geuiter.
Daar word beweer dat een van die hoof rioolpype in Van Bruggenstraat verstop is en lei tot rou riool wat oorloop in die woongebied.
“Die riool word nou ’n groot probleem en ook ’n veiligheidsrisiko, my honde drink al die vuil water en my kleinkinders kan nie meer buite speel nie,” het Opperman ook bygelas.
Volgens die inwoners is daar al talle oproepe, boodskappe en klagtes gerig aan Theo Van Vuuren, waarnemende munisipale bestuurder en woordvoerder, Lebo Mofokeng van Emalahleni Stadsraad maar te vergeefs.
“Hoe motiveer mens die munisipaliteit om aan ’n probleem aandag te skenk? Dit is nou al die vyfde dag wat riool my erf oorvat weens blokasies van munisipale rioolpype en raai wat? Nogsteeds geen reaksie van die munisipaliteit nie,” het nog ’n rasende inwoner op Facebook geblaker.
Daar word ook beweer dat die munisipaliteit se taakspan bewus is van die probleem, maar daar is steeds niks gedoen aan die sitsuasie nie.
Mnr Mofokeng en Van Vuuren het geen kommentaar met ons ter perse gaan gelewer nie.
