
Na ’n klagte ontvang is van ’n inwoner van Tasbetpark, het WITBANK NUUS foto’s gaan neem van mangate wat byna oorloop.
Op Vrydag, 1 April het ’n inwoner uit pure desperaatheid, na die koerant gekom vir hulp, aangesien die munisipaliteit volgens hom, onbereikbaar is.
“Ek het hierdie probleem al meer as een keer rapporteer. Ek het al hoeveel nommers gebel, by hoeveel mense uitgekom wat my net eenvoudig nie kan help nie,” het die inwoner gesê.

Die mangat in ’n inwoner van Castanetstraat se erf, wat al byna oorloop.
Die mangate is met ’n pik oopgemaak en die een in die inwoner se erf, loop byna oor. Die een voor die erf lyk nog erger, met die riool wat net meer opstoot. “Hier is mense in Castanetstraat en ook in Dulcimerstraat wat die reuk nie meer kan uithou nie. Almal kla oor die reuk wat tot in hul huise intrek en niks kan daaraan gedoen word nie,” het die inwoner verder gesê.
Hy het ook gesê dat daar wel Vrydag, 1 April werkers van die munisipaliteit daar was om die saak te ondersoek.
“Hulle het planne van die plek, en volgens hulle moet daar ’n mangat in Dulcimerstraat wees, wat daar nie is nie. Hulle het gesê hulle sal terugkom na my toe of kyk of hulle die probleem kan oplos, maar ek wag steeeds,” het hy Maandag, 4 April gesê.
Hy het bygevoeg dat hierdie probleem al vir ongeveer drie weke duur, en na sy oproepe het ’n man gekom om te kyk wat fout is.
“Aangesien die probleem nie deur een ou opgelos kan word nie, het ek hom gehelp waar ek kon, maar hy het glo nie die regte gereedskap gehad nie. Hy sou die volgende dag terug gekom het. Vir hom wag ek ook nog steeds,” was die inwoner se woorde.
In verlede week se WITBANK NUUS is daar ook berig van ’n skrootwerf in Mandelastraat wat stink as gevolg van riool. Op Dinsdag, 5 April, het me. Bernice Smith weer geskakel en gesê dat dit net erger word.

’n Mangat wat voor ’n inwoner van Castanetstrat se erf is.
”Daar is steeds geen verandering nie en ons weet nie meer watter kant toe nie. Dit word nou al so erg dat vroulike goed uitspoel en die gate word dieper. Dit loop in ons besigheid in en ons kliënte kla verskriklik. As ons besigheid moet toemaak, is dit nog 12 mense sonder werk,” het sy bekommerd gesê.
Mnr. Lebohang Mofokeng, kommunikasiebeampte van die munisipaliteit is geskakel en hy het beloof om aandag te skenk aan die probleme. Geen terugvoer is egter nog ontvang teen druktyd nie.
