MunicipalNews

Riool-gemors – inwoners maak maar self skoon

Die gemeenskap in Castanetstraat het hul hande vuilgemaak om die deurlopende riool-gemors in hul straat maar self skoon te maak.

Die gemeenskap in Castanetstraat het hul hande vuilgemaak om die deurlopende riool-gemors in hul straat maar self skoon te maak.

Die gemeenskap het Sondag, 10 April die strate ingevaar om die oorsprong van die rioolprobleem te kry. “Ons sukkel nou al ongeveer ’n maand met die riool wat oral opstoot. Hierdie naweek het ek net genoeg gehad. Ons hou aan bel en ons smeek en soebat, maar niks word gedoen nie. Dit word net as ‘noted’ aangegee en dis hoe ver dit gaan,” het een van die ontstoke inwoners van Castanetstraat gesê.
Daar is geld bymekaar gemaak deur die gemeenskap van Castanetstraat en ’n loodgieter is uitgekry om te help soek na die probleem.

“Die munisipaliteit was al menige male hier, en eers het hulle die verkeerde planne, dan het hulle nie gereedskap nie en dit is een verskoning op die ander. Ek en die loodgieter, saam met ander helpers het die hele Sondag in dreine rondgekrap. Ons het verskriklike goed daar uitgehaal, maar die dreine is nou oop en die riool vloei weer soos dit moet. Ons kon steeds nie in Dulcimerstraat die probleem oplos nie, aangesien dit laat is en dit ons ’n hele dag geneem het om twee lyne oop te kry,” het ’n inwoner gesê.

Mc494-1rs
Die riool wat in inwoners se erwe opdam en afloop, is ’n onophoudelike probleem in Castanetstraat, wat geen aandag ontvang van Emalahleni Munisipaliteit nie.

Hy het ook gesê dat die een mangat onder bourommel begrawe was en die ander een was ongeveer 30-40cm toegegroei onder gras.

“Albei hooflyne wat ons oopgemaak het, het snaakse goed in gehad, van hare tot koerantpapier. Die hele sisteem is oop na die goed verwyder is. Al wat die munisipaliteit se ses mense sê is dat hulle moet terugkom, want hier is ’n groot probleem. Nou ja, die groot probleem is opgelos en ons wag steeds. Ek kon die stank in my erf en voor my erf nie meer hanteer het nie, aangesien daar ’n mangat voor en een in my erf ook is. Dit het begin opstoot sodra die gebruik hoog geraak het, vanaf ongeveer 18:00 in die aand,” was die inwoner se verdere woorde.

Mc494-2rs
Die gemors wat uit die lyne gekom het, wat Castanetstraat se rioolvloei geblok het. Dit is deur inwoners uitgehaal op Sondag, 10 April.

Op Vrydag, 8 April het ’n inwoner benoud geskakel, wat in Dulcimerstraat woonagtig is, waar die riool al vir drie weke in hul erf lê.

“Hierdie laaste jaar was net verskriklik vir ons. Dit is een ding na die ander en nou nog hierdie. Ons het ’n vol gasbottel wat my suster met Emfiseem gebruik het, maar ons moes haar terug gestuur het Johannesburg toe aangesien sy nie in hierdie stank kan bly nie. Ons kan skaars asemhaal en kan glad nie by ons stoorplek in die erf inkom nie, aangesien die riool opgedam daar lê. Dit stink van jy jou oë oopmaak in die oggend, en so kan dit nie meer aangaan nie,” het die inwoner van Dulcimerstraat gesê.

Sy het ook bygevoeg dat hulle al 40 jaar in hierdie huis bly en dat die probleem nog nooit so erg was nie.
Nadat baie oproepe gemaak is na die munisipaliteit en die probleem telkemale gerapporteer is, hang die reuk steeds in Dulcimerstraat.

“Ons het van 08:00 tot 17:00 gewerk, ons het heel dag in dreine rondgegrou, ons sal seker maar al die probleme hier self moet uitsorteer aangesien ons klagtes aan die munisipaliteit op dowe ore val,” was die inwoner van Castanetstraat se laaste woorde.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button