
“Die teer word gemors op spoedhobbels waar dit nie nodig is nie, maar die slaggate in ons stad beskadig voertuie,” was ’n ontstoke, mnr. Koos van Gass, se woorde.
Hy het op Maandag, 18 April, WITBANK NUUS genader, nadat daar sowat ’n week terug, spoedhobbels in Klawerstraat gegooi is.
“Die beste van alles is, dat daar slaggate in die strate is, die hele eMalahleni is vol slaggate, mens kan in elk geval nie jaag nie, maar spoedhobbels pronk oor die hele Tasbetpark. Klawerstraat is ’n baie stil straat en hier jaag selde of ooit mense. In Oktaafstraat is daar hobbels en ook in Fiddlestraat. Dit is onnodig en ’n mors van geld en ook teer, wat ons stadsraad reeds nie het nie,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat hy self skade het weens slaggate.
“Ek het ’n besigheid in die stad en ry elke systraatjie, byna elke dag. Ek help om die stad skoon te hou deur vullis te verwyder, en nou moet ek ’n verdere R3 000 uithaal om my eie skade te herstel. My sleepwa se as se vere het skade opgedoen weens ’n slaggat en in sommige areas van Duvhapark kan mens nie ry nie. Jy kan ook nie die gate vermy nie. So jy moet daardeur ry. Maar hierdie onnodige spoedhobbels in ’n rustige straat, laat my stom,” het Van Gass verder gesê.
Na bewering het kontrakteurs die spoedhobbels opgerig en na hulle gevra is, ‘wat van die gate’, het die werkers glo slegs geantwoord dat hul gehuur is om die spoedhobbels op te rig, niks meer nie.
“Wie betaal vir kontrakteurs? Ons doen,” het hy woedend bygevoeg.
“Om die kersie op die koek te sit, is dit nie geverf nie. Hier was vandag ’n ambulans in die straat af en moes ry en stop as gevolg van die spoedhobbels. Dit is verlede week Dinsdag gegooi, dit is tot vandag toe nie geverf nie,” het hy Maandag gesê.
Teen druktyd was geen terugvoer ontvang van die Emalahleni Munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Lebohang Mofokeng, nie.
