
Die riool in Tasbetpark, Uitbreiding 2, het baie inwoners moedeloos gehad, nadat die riool in die erwe begin opdam het.
Op Saterdag, 16 April het inwoners weereens aan die werk gespring om rioolprobleme in hierdie omgewing op te los. Vroeër is berig dat inwoners die eerste blokkasie in Castanetstraat self reggemaak het. Daarna was die munisipaliteit steeds gekontak om die aanhoudende vloei van riool in inwoners se erwe, reg te maak.
Nadat geen werk hiervan gemaak is nie, het inwoners ’n anonieme skenking gekry, en ’n privaat loodgieter is uitgekry om die probleem te help oplos.

Die riool wat vir weke opgedam gelê het in Dulcimerstraat is uiteindelik deur inwoners opgelos.
Saterdag is daar gewerk en nog ’n loodgieter is gekry om te help, aangesien die hooflyn van Dulcimerstraat geblok was.
“Ons het Dinsdag weer begin werk en ons het hierdie lyn oopgekry. Hier is van die mense wat al ongeveer twee maande sukkel met die riool en dit vloei in hulle erwe in, waar dit dan opdam. Ons het die hele rioolprobleem opgelos in hierdie omgewing en die hooflyn wat langs die N12-snelweg verbyloop, het ons uiteindelik Dinsdag oopgekry,” het een van die inwoners gesê.
Hy het bygevoeg dat die gemeenskap baie behulpsaam was en saamgewerk het as hulle moet.

Riool het in poele in Dulcimerstraat-inwoners se erwe opgedam gelê totdat inwoners van die gebied die probleem self moes oplos.
“Ons as gemeenskap moet maar die probleme oplos, aangesien die munisipaliteit van geen hulp is nie. Ongeag hoeveel keer daar gekla word en hoeveel oproepe gemaak word, niks word van hulle kant af gedoen nie. Ons moet in die rioolstank bly, aanhou betaal en die probleme word nie opgelos nie. Die stank van riool word ondraaglik,” het die inwoner gesê.
Hy het ook bygevoeg dat, sedert die probleem aangemeld is, nog niks van die Emalahleni Munisipaliteit se kant af gedoen was om die lyne oop te maak nie.
Geen terugvoer van die media-woordvoerder, mnr. Lebohang Mofokeng is ook ontvang nie.
