
Hopelik gaan daar dié week waarskuwingsborde voor die verkeerseiland op die hoek van OR Tambostraat en Gordonweg geplaas word.
Die munisipaliteit het uiteindelik terugvoering gegee na pleidooie van die gemeenskap om dié verkeerseiland te beveilig.
Die verkeerseiland op die besige interseksie het al heelwat ‘handtekeninge’ van sy slagoffers op.
Insleepdienste moet gereeld daarheen jaag om voertuie weg te sleep wat oor die eiland ry of dit van voor af stamp omdat dit nie in die aand sigbaar is nie.

Waarskuwingsborde gaan voor die verkeerseiland op die hoek van OR Tambostraat en Gordonweg geplaas word.
“Ons sal ons oog op die verkeerseiland hou om te sien of die waarskuwingsborde die nodige effek het,” het die munisipale bestuurder, mnr. Theo van Vuuren gesê.
Me. Annemarie van Dyk het geslaak van verligting toe sy hierdie brokkie goeie nuus hoor.
“Ek is so bly daar word ’n poging aangewend om die verkeerseiland meer sigbaar te maak,” het sy gesê.
Me. Van Dyk het besluit om iets aan die verkeerseiland te doen nadat haar seun, Shaun, op Saterdag 3 Junie dood in sy kar aangetref is by die Sasol petrolstasie oorkant die verkeerseiland.
Hy het Vrydag 3 Junie na bewering oor die verkeerseiland gery waar sy kar se wiel skade opgedoen het, by die petrolstasie gestop, uitgeklim en ’n pastei en koeldrank gekoop en is later dood in sy kar gevind.
Die Van Dyk familie glo dat ’n harde hou teen sy kop tydens die ongeluk aanleiding tot sy dood kon gegee het.
