Ander plan sal met verkeerseiland gemaak moet word
Skaars ’n week nadat die verkeerseiland op die hoek van OR Tambostraat en Gordonweg opgedollie is, het dit weer deurgeloop.

Skaars ’n week nadat die verkeerseiland op die hoek van OR Tambostraat en Gordonweg opgedollie is, het dit weer deurgeloop.
Een van die inligtingsbordjies op die verkeerseiland is omgery en glasstukke aan die ander end van die verkeerseiland vertel van nog ’n botsing wat voor die grondpaadjie wat na die ou Tin Cups toe lei, plaasgevind het.
Die plaaslike stadsraad het die verkeerseiland verlede week korter gemaak aan beide kante en die inligtingbordjies opgerig na verskeie pleidooie deur ’n ma wie se seun ook ’n statistiek van die besige interseksie geword het.
Me. Annemarie van Dyk het dit haar missie gemaak om die verkeerseiland veiliger en meer sigbaar te maak na haar 33-jarige seun Shaun van Dyk se dood.

Dié inligtingsbordjie op die hoek van OR Tambostraat en Gordonweg is klaar omgery en dis nie eers ’n week oud nie.
Daar is nog nie duidelikheid oor wat op Vrydag 3 Junie met Shaun gebeur het nie.
Hy is Saterdag 4 Junie dood in sy kar aangetref by die Sasol garage op die hoek van die interseksie. Hy het na bewering oor die verkeerseiland gery waar sy kar se wiel skade opgedoen het, by die garage gestop, uitgeklim en ’n pastei en koeldrank gekoop en is later dood in sy kar gevind.
Die Van Dyk familie glo dat ’n harde hou teen sy kop tydens die ongeluk aanleiding tot sy dood kon gegee het.
Die inligtingsbordjie is intussen weer reg gebuig.
LEES OOK:
Verkeerseiland word opgedollie
Nog geen terugvoer oor verkeerseiland nie
