Rioolrivier in erf
Rioolrivier is ’n nuwe rivier wat reg deur die Steenkoolstad se inwoners se erwe vloei.

Rioolrivier is ’n nuwe rivier wat reg deur die Steenkoolstad se inwoners se erwe vloei. Al verskil is dat dit nie rein en suiwer water bevat nie, maar riool afkomstig van die toilette van die inwoners van eMalahleni.
“Dit het maklik sowat twee maande terug begin toe die mangat by ons buurvrou se agter erf verstop was,” het die woedende me. Lizaan Wesson, ’n inwoner van Tasbetpark Uitbreiding Twee, gesê.

Die man gemaakde rioolrivier in Clarinetstraat, Tasbetpark X2
Volgens haar het die munisipaliteit na talle oproepe uitgekom om die probleem uit te sorteer.
“Hulle het op hul tyd hier gestop ’n paar goed in die mangat gedruk en vir my buurvrou vertel dat daar ’n dooie ding in die pyp is wat die verstopping veroorsaak,” het Wesson gesê.
Maar, nadat die munisipale werkers daar was het die probleem volgens Wesson net vererger.
“Dit het so erg geword dat ons hele huisgesin, asook die bure hulle hande moes vuil maak net om te keer vir die gemors om in ons huis in te vloei. Al wat die munisipale werkers kom regmaak is om ’n sloot langs die verstopte of gebarste pype te grou en dan sien jy hulle nie weer nie,” het nog ’n inwoner me. Nikita Ludik gesê.
Na die inwoners ondersoek ingestel het, het hulle vasgestel dat die hoof afvoerpyp wat riool na die rioolpompstasie vervoer, verstop is.
“Nou beland elke milliliter riool in ’n diep sloot wat uiteindelik in die rivier beland hier in my eie erf,” het Wesson kwaad gesê.
“Dis walglik om so te lewe. Ek het klein kinders wat buite speel, ek het honde wat ek nie kan weghou en verbied om die water te drink nie. My hond was sowat ’n week terug só siek sy stoelgang het gebloei,” het Wesson gesê.

Die riool-afval wat daagliks deur die Wassons se erf dryf.
Die munisipaliteit hou hulle doof vir hierdie probleem en volgens Wesson kry hulle geen reaksie op hulle klag nie.
“Ek bel my selfoon se battery pap elke dag met die hoop dat hulle ons sal help, maar te vergeefs, het Ludik gesê.
“My kinders en selfs ek wil nie eers meer eet nie weens die aaklige reuk. As ons net waag om die kombuisdeur oop te maak wil almal net weghardloop,” het ’n moedelose Wesson gesê.
Die munisipale bestuurder, mnr. Theo van Vuuren het teen druktyd geen kommentaar op dié probleem gelewer nie.
“Moet nie eers vir my sê dat hulle nie bewus is van hierdie probleem nie want volgens ’n paar e-pos boodskappe was hul besig om die probleem op te los,” het Ludik ten slotte gesê.
ALSO READ:
Riool vloei en water word vuiler
Riool los stank na
