Local newsNews

Talle beseer by ‘doodsdraai’

“Die voertuig het links van my verby gegaan, maar hulle kom met ’n vreeslike spoed van agter, en besef nie daar is voertuie op die hoogte nie,”

Kruise loop saam met die draaie op die R555. Vir die Bronkhorst- en Pretorius-gesinne is nog ’n ongeluk slegs meer olie op die vuur wat in hul binneste woed.

Op Donderdag, 27 Oktober was 23- jarige Werner Bronkhorst in ’n ernstige ongeluk betrokke, toe ’n Impendulo van agter teen hom vasgery het. “Werner het gestaan om by die plot in te draai, toe die Impendulo hom teen die aankomende verkeer gestamp het. Hy het kop-aan-kop met ’n Mitsubishi gebots. Beide voertuie het aan die regterkant van die pad, op hul kante beland. Ons is al keelvol vir die ongelukke waarin ons geliefdes betrokke raak. Die stippellyn wat vir die verkeer toegang gee om verby te kan gaan, is een van ons grootste probleme. En ook die ingang na ons plot, wat op ‘n blinde hoogte sit. Ons wou al die ingang verskuif, aangesien al agt plotte dieselfde ingang gebruik. Ongelukkig word niks aan ons versoeke gedoen nie,” het me. Gwen Pretorius, Werner se aanstaande skoonma, Donderdag vertel.

Mnr. Nico Bronkhorst, Werner se pa het Maandag gesê dat, tydens die botsing, Werner se voertuig teen een van die chevron-borde langs die pad gebots het. Sy Polo het toe begin brand.

Mc740-2rs
Die Polo wat betrokke was in die ongeluk op die R555 op Donderdag, 27 Oktober. Hierdie voertuig het aan die brand geslaan en is deur inwoners van die gebied geblus om die lewe van mnr. Werner Bronkhorst te red, wat agter die stuurwiel gesit het.

“Ons is verskriklik dankbaar vir die mense wat dadelik reageer het. Dit was werklik engele wat hul hand oor ons kind gehou het. Dit was ’n taxibestuurder wat gestop het, kort na die ongeluk plaasgevind het. Hulle het vir Werner uit sy voertuig gehaal en die Mitsubishi se brandblusser gevat om die vlamme te blus. Teen hierdie tyd het byna die hele enjin al gebrand. Werner kon nie los kom uit die veiligheidsgordel nie, aangesien hy bo op dit gelê het. Hulle het met ’n mes die veiligheidsgordel gesny en hom uitgetel. Hulle het daar gebly tot nooddienste na die ongeluk ontbied is, en het net gevra of hy okay gaan wees. Hy het geknik en hulle het gery. Ons het geen kontaknommer of registrasienommer om hulle te bedank nie. Maar ons lewe in dankbaarheid dat hulle ons kind se lewe gered het,” was Bronkhorst se woorde.

Hy het ook gesê dat sy seun verskriklik seergekry het.

“Hy is tans in Midmed Hospitaal se intensiewe sorgeenheid waar hy behandel word vir sy beserings. Hy is op ’n ventilator, sy regterenkel het baie erg gebreek, en sy bekkenbeen is gekraak. Die impak van die slag het veroorsaak dat die veiligheidsgordel en die lugsak wat ontplooi het, sy longe gekneus het en hy is tans onder sedasie,” het Bronkhorst sy seun se toestand beskryf.

Hy het ook bygevoeg dat hy ook byna op Sondag, 30 Oktober in ’n ongeluk betrokke was, toe hy by dieselfde pad wou indraai.

Mc740-1rs
Twee van die voertuie wat op hul kante beland het na die ongeluk op die R555 op Donderdag, 27 Oktober.

“Die voertuig het links van my verby gegaan, maar hulle kom met ’n vreeslike spoed van agter, en besef nie daar is voertuie op die hoogte nie,” was Bronkhorst se verdere woorde.

Pretorius het gesê dat die ongeluksgetalle net toeneem, na haar seun se verloofde op 3 Junie vanjaar ook hier in ’n ongeluk betrokke was.

“Sy het nie so ernstig seergekry nie, aangesien daar geen voertuie van Middelburg af gekom het nie. Maar elke keer word die voertuie van agter gestamp, dieselfde episode oor en oor. Ek het met iemand in kontak gekom van die maatskappy wat in beheer is van die projek op die R555, en alhoewel hy nie baie behulpsaam was nie, het hy gesê ek moet hom Dinsdag weer bel, dan sal hy Woensdag saam met my gaan kyk na die pad en ’n oplossing probeer vind. Hy het my vroegtydig ingelig dat hierdie ’n baie lang proses gaan wees en ons waarskynlik ook baie lank gaan wag. Ons wil net hê dat iets gedoen moet word aan die pad,” het sy Maandag gesê.

Bronkhorst het verder vertel dat Werner ’n vakleerling by Khutala is en hulle Maandag Werner se eksamens moes gaan kanselleer. Hy het ook gesê dat Werner tans by sy verloofde bly en hy was op pad huis toe vanaf eMalahleni, toe die ongeluk plaasgevind het.

“Werner is Vrydag geopereer om penne in sy voet te sit, as gevolg van die enkel wat gesplinter het. Hy was Dinsdag, 1 November weer terug teater toe, om die penne uit te haal en te begin met die hegproses, waar plate, skroewe en so meer in sy voet gesit gaan word,” het Pretorius Dinsdag gesê.

Langamed Emergency Management was op die toneel, en so ook Legacy Emergency Specialists. Mnr. Dino Padayachee, Hoof Uitvoerende Beampte van Langamed, het bevestig dat hulle twee pasiënte behandel het na hul sagteweefselbeserings opgedoen het. Die twee pasiënte was op die toneel gestabiliseer en na eMalahleni Privaat Hospitaal en na Witbank Provinsiale Hospitaal, onderskeidelik, vervoer.

Die plaaslike munisipaliteit het kommentaar gelewer, na vele vrae aan hul gerig is om die grondpad se ingang te verskuif vanwaar dit tans is, na ’n veiliger plek. Pretorius is van mening dat dit die indraai na hul plotte, veiliger sal maak. Die munisipaliteit het hierdie gesin geadviseer om die direktoraat van ontwikkelingsbeplanning te skakel in hierdie verband.

“Werner het nog bietjie meer as ’n jaar oor van sy ambag, dan sou hy gekwalifiseer het. Dan sou sy kar ook afbetaal gewees het. Hy was baie heilig oor hierdie ryding. Ons is net baie dankbaar engele het ons kind beskerm,” het Bronkhorst ten slotte gesê.

LEES OOK:
Residents had enough of R555
Still no news about R555 accident

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button