Partytjie vat vlam
“Dit is nog nie presies bekend of die gasbottel foutief was nie, maar dit is definitief die oorsprong van die brand,”

’n Sondag kuiertjie by Indlela Lodge is kortgeknip nadat ’n gasbottel ontplof en ’n brand ontstaan het.
“Dit is nog nie presies bekend of die gasbottel foutief was nie, maar dit is definitief die oorsprong van die brand,” het die eienaar, mnr. Willem Cillie, gesê na die voorval Sondag, 4 Desember.
“Ek verhuur my perseel al vir ’n hele rukkie aan hierdie groep mense wat bekend is as die ‘Social Coal Market’. Hulle kom op ’n maandelikse basis bymekaar en geniet die dag saam,” het hy gesê.
Dit blyk dat die gasbottel by ’n kosstalletjie ontplof het.

Beide die gemeenskap en brandweer het saam gestaan om die vuur te blus by Indlela Lodge. Die brand het Sondag, 4 Desember ontstaan nadat ’n gasbottel ontplof het.
“Ek weet nie wat daar verkeerd gegaan het nie, maar dit was ’n ongeluk wat met enige iemand kon gebeur. Ek is net bly daar is nie een besering opgedoen nie,” het hy dankbaar vertel.
Na die voorval het die organiseerder van die maandelikse byeenkoms na Cillie gekom en aangebied om te help met skade en die vervanging van sy dak. Cillie het gesê,
“ek waardeer die feit dat hy na my toe gekom het na die tyd om te kyk of ek en alles anders reg is.”
Volgens Cillie is daar gewoonlik so tussen 200 tot 500 mense by die maandelikse byeenkoms.
Met die slag van die gasbottel wat ontplof het, het die mense begin rondstaan en kyk hoe die klein bedieningspit van die perseel tot as verbrand.

Die gasstoof-stellasie van die kosstalletjie waar se gasbottel ontplof het by Indlela Lodge tussen die verbrande grasse en dakkappe. Die brand het op 4 Desember ontstaan.
“Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) was blitsvinnig daar en almal het begin vuur doodslaan,” het hy ook gesê.
Op die toneel het mnr. Stanley White, voorsitter van die GPF Sektor 2, gesê dat
“die reën almal se dag tot ’n einde gebring het, maar ook ’n hulpmiddel was vir die vuur.”
Saam het die gemeenskapslede en brandweer gewerk om die vuur te blus en seker gemaak niemand is beseer nie.
Legacy Emergency Specialists het dadelik hand bygesit en sommer ook die verkeer gereguleer sodat almal veilig van die perseel af kon kom.
“Dis nou nie juis so baie skade dat ek dit by die versekering moet eis nie, dit het gebeur en ons gaan voort. Ek meen die einste groep mense het my kom vra of hul die naweek hulle byeenkoms weer kan hou aangesien die laaste een ‘doodgebrand’ het,” het Willem lag-lag ten slotte gesê.
LEES OOK:
Vlamme kan geskiedenis nie uitwis nie
20 jaar se herinneringe weg in vlamme
