Man beland onder trok na argument
Die bedelaar het Vobey daarna na bewering voor die trok ingestamp.

Mnr. Simon Vobey het Donderdagoggend toe hy by Maranatha Sorgsentrum in Pretoria weg is, nie besef dit sou die laaste keer wees dat hy sy vrou sou groet nie.
Vobey was vroegoggend op Donderdag, 8 Desember by die kruising van Mandela- en OR Tambostraat in ’n ongeluk betrokke wat sy lewe geëis het.

Die ongelukstoneel waar mnr. Simon Vobey oorlede is, na hy deur ’n trok raakgery is op Donderdag, 8 Desember op die hoek van Mandela- en OR Tambostraat.
Hy is deur ’n trok se sleepwa getref, by die kruising waar hy geld ingesamel het vir die sorgsentrum.
Volgens een van die ooggetuies het ’n argument tussen Vobey en ’n bedelaar ontstaan, glo oor staanplek vir die dag.
Die twee mans het die pad oorgesteek vanaf die vulstasie na die middelman in Mandelastraat. Hier het die bedelaar gekoes vir ’n bottel wat glo deur Vobey na hom geslinger is. Die bedelaar het Vobey daarna na bewering voor die trok ingestamp. Hy het onder die sleepwa van die trok beland en is op die toneel dood.
Mnr. Daan Lensley van Maranatha Sorgsentrum het Donderdag, 8 Desember bevestig dat Vobey wel by die sentrum woonagtig was.

Paramedici van Langamed Emergency Management verleen hulp op die toneel waar mnr. Simon Vobey onder ’n trok beland het. Die voorval het Donderdag, 8 Desember op die hoek van Mandela- en OR Tambostraat plaasgevind.
“Hy het ongeveer twee maande by ons gewoon, en het vrywillig ingestem om te gaan kollekteer. Vobey het gesien dat daar elke dag mense uitgaan en hy het gevra of hy ook kan gaan. Ek het vir hom gesê dat dit heeltemal sy eie keuse is. Hy het by ons aangekom, nadat hy medies ongeskik verklaar is om te werk. Die polisie het my eers omstreeks 15:00 vanmiddag gekontak in verband met die ongeluk,” het Lensley Donderdag gesê.
Vobey se vrou, me. Frieda Vobey het Maandag, 12 Desember deur haar trane vertel dat haar man ’n baie goeie persoon was.
“Hy het altyd gehelp waar hy kon en het sy Bybel baie goed geken. Ons was drie jaar getroud en het geen kinders saam gehad nie, maar hy het wel ’n kind wat oorsee woon. Op 37-jarige ouderdom is hy uit ons lewens geruk en ons gaan hom vreeslik mis. Ons het steeds nie ’n vasgestelde datum van wanneer sy verassingsdiens gehou gaan word nie,” het Frieda gesê.
Lensley het ook Maandag gesê dat Vobey ’n baie rustige man was en dat hy die Sondag voor sy ongeluk groot gedoop is.
“Hy het sy saak met die Here reggemaak voor hy gegaan het,” was Lensley se woorde.
Die trokdrywer, wat erg geskok was op die toneel, was nie beskikbaar vir kommentaar nie. Sy toesighouer het ook op die toneel aangekom en gesê dat die kole vervoertrok nie as ’n reël hierdie pad ry nie. Hy het gesê dat die trok slegs op daardie dag vanaf AfriSam na Arnot onderweg was. Die trok het regs gedraai, vanuit Mandelastraat in OR Tambostraat in, toe Vobey onder die sleepwa se wiel beland het.

Mnr. Simon Vobey het onder ’n trok beland, nadat hy na bewering in ’n argument betrokke was met ’n ander man. Die voorval het op Donderdag, 8 Desember plaasgevind op die hoek van Mandela- en OR Tambostraat.
Die trokdrywer is behandel vir skok en die toesighouer het Maandag aan WITBANK NUUS gesê dat die drywer vir drie weke nie by die werk sal wees nie. Hy het ook gesê dat hy Saterdag 10 Desember by die polisiestasie was vir ’n saaknommer, maar geen saak is volgens hulle oopgemaak nie.
Die man wat Vobey na bewering voor die trok ingestamp het, het van die toneel af weggehardloop.
LEES OOK:
Padongelukke neem toe
‘Pad van die dood’ en wat het gebeur
