Bees beseer wyl hy vervoer word
Die dier is erg beseer in ’n poging om homself van die tou om sy nek en die sleepwa te bevry.

Talle verbygaande motoriste het ’n knop op hul maag gekry toe hulle verlede week ’n bees gewaar wat agter op ’n sleepwa vasgemaak was. Die dier is erg beseer in ’n poging om homself van die tou om sy nek en die sleepwa te bevry.
Die bees is Donderdag, 8 Desember deur twee mans vervoer, glo vanaf Duvhapark na Kwa-Guqa.
’n Polisiebeampte wat die voertuig gestop het, het die bestuurder summier polisiestasie toe geneem waar hy die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en plaaslike veearts, Dr. Nolan Landman vir bystand gekontak het.
Dr. Landman het die besluit gemaak om die dier uit te sit, en die nodige stappe is geneem. Volgens die bestuurder van die motor, was hulle op pad na ’n begrafnis met die dier toe hulle afgetrek is deur die polisie.

Dié bees is Donderdag, 8 Desember op ’n sleepwa vasgemaak en vervoer.
Die bestuurder van die voertuig het ook gesê dat hy glad nie die polisie kwalik neem omdat hulle hom afgetrek het nie, maar hy was nie seker van die wette aangaande die vervoer van hierdie diere nie.
“Ek is nou meer ingelig en sal beslis nie weer hierdie fout maak nie. Ek wil net weet hoekom die verhuurder van die sleepwa my nie reggehelp het nie,” het die bestuurder Donderdag gesê.

Die bees wat op ’n sleepwa vasgemaak is het talle beserings opgedoen tydens sy geveg om los te breek. Dit was op Donderdag, 8 Desember.
Die verhuurder het ook later daar aangekom, en het aan die bestuurder van die voertuig verduidelik dat dit nie sy verantwoordelikheid is, wat met die sleepwa gedoen word nie. Hy het gesê dat van die oomblik wat die sleepwa sy besit verlaat, hy geen rekenskap kan gee vir wat met die sleepwa vervoer word nie.
Daar kon nie vasgestel word teen druktyd of daar ’n kriminele saak oopgemaak is teen die bestuurder van die voertuig nie.
LEES OOK:
Geen liefde vir diere
Reddingspoging raak harte
