Local newsNews

Giftige gasse van kragopwekker oorval vrou

“My hande en voete het al begin blou word, daar het skuim by my mond uitgekom en ek het my tong gebyt. Die dokter het gesê dat ek net betyds behandeling ontvang het."

“Die dokter het gesê, as ek vyf minute later behandeling ontvang het, sou ek dit nie gemaak het nie,” het me. Hilda Goosen gesê.

Sondag, 5 Desember is ingekerf in me. Hilda Goosen se geheue, nadat sy amper in haar huis vergas is.

“Die krag was vir 24-uur af en ons het geen reaksie van die munisipaliteit ontvang nie. Een van Hilda se kinders was hier en ek het vir haar gesê dat die krag nie weer daardie dag aan gaan kom nie. Die yskaste het al begin ontvries so ek het vir haar die kragopwekker aangesit. Ek het later die dag, toe haar kinders weg is, vir haar die krag oorgeskakel met die ‘turnover switch’. Ons het ook die kragopwekker buite gesit, aangesien dit in haar motorhuis gestaan het,” het mnr. Dawie Nienaber Woensdag, 14 Desember, gesê.

Hy het ook vertel dat hy haar alarm, elektriese heining, hek en motorhuis se deure aan die kragopwekker gekoppel het, aangesien die batterye nie meer krag gehad het nie.

Mc797-2 (deep edge pls)rs
Die twee reaksiebeamptes, mnr. Joshua Tau en Sydney Hlatshwayo wat me. Hilda Goosen gehelp het toe sy byna vergas is in haar huis op Sondag, 5 Desember.

“Dawie het huis toe gegaan ’n rukkie later, en aangesien die kragopwekker op wiele was, het ek gedink om dit in die motorhuis in te trek, omdat ek bang was dit word gesteel. Nadat almal vir my gesê het om dit af te sit, het ek gedink ek gaan net die venster oopmaak en dit aan los, die gas sal deur die venster gaan. Min het ek geweet dat die gas reeds in die huis begin insuipel het,” was Hilda se woorde.

Sy het vertel dat sy in die televisiekamer gaan lê het, wat naby aan die motorhuis was, en waar die kragopwekker daardie tyd gestaan het. Dawie het die oggend omstreeks 05:00 gebel, om te laat weet dat die krag terug is. Hy het vertel dat hy vir Hilda gesê het dat hy die ‘turnover switch’ weer sal kom oorswaai.

“Sy het nog by haar volle positiewe geklink, na die kragopwekker meeste van die aand gehardloop het. Dit het uiteindelik uit brandstof gehardloop deur die aand. Nadat ek met Hilda gepraat het, het die krag weer af gegaan. Sy het haar selfoon geantwoord toe ek weer gebel het, en gesê dat iets swaar word en die foon laat val. Intussen het sy haar blinders oopgetrek,” was Dawie se woorde.

Mc797-1rs
Mnr. Dawie Nienaber en me. Hilda Goosen.

Hy het verder vertel dat hy na haar huis toe is, maar nie kon inkom nie. Aangesien hy net af in die pad bly, het hy huistoe gegaan en sy skoondogter het hierdie keer saamgekom. Ook dat hy nie kon deurkom na haar selfoon toe nie en het die bord van die sekuriteitsmaatskappy op die muur gesien.

“Ek het dadelik die nommer geskakel, aangesien ons geen manier gehad het om in die huis te kom nie. Die maatskappy het ’n sleutel van die klein hekkie, en het op hierdie manier toegang verkry tot die erf. Ons het deur die venster gesien dat Hilda se selfoon op haar bors lê en haar oë is toe, waar sy op die bank lê,” het Dawie verder vertel.

Verder het hy vertel dat hy terug na sy huis gegaan het om Hilda se dogter se telefoonnommer te kry.

“Sy het vir my gesê om in die huis in te breek en ek het die een venster gebreek. Een van die reaksielede het die ambulans geskakel en Legacy Emergency Specialists was baie vinnig hier,” het Dawie vertel.

Paramedici het dadelik suurstof gegee en in die ambulans gelaai waarna sy na Life Cosmos Hospitaal vervoer en in die Intensiewe-sorgeenheid opgeneem is.

“My hande en voete het al begin blou word, daar het skuim by my mond uitgekom en ek het my tong gebyt. Die dokter het gesê dat ek net betyds behandeling ontvang het. Al die gifstowwe is nog in my bloed en ’n breinskandering het bevestig dat ek niks verder makeer nie, behalwe bietjie hartskade. Dit is nog te vroeg om te bevestig of dit permanent is,” het Hilda vertel.

Sy het gesê dat sy net baie dankbaar is vir almal wat hul ontferm het oor haar, en ook die reaksielede wat tot die einde gebly het om haar by te staan en ook teruggekeer het die volgende dag om seker te maak sy makeer niks.

“Ek is dankbaar om hierdie wonderlike mense in my lewe te hê, en kan nie genoeg dankie sê nie,” het Hilda ten slotte gesê.

LEES OOK:
Vrou dood na verwoestende veldbrand
Waarde van ’n gemeenskap

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button