’n Kerskous vol liefde vir Eloise
“Net die wete daar is mense wat omgee gee my krag. Uit die diepte van my hart wil ek graag elkeen bedank wat die pad saam met my stap. Dis julle wat my rede gee om aan te hou veg."

Kerstyd is gee-tyd, dis omgee-tyd en tyd om te reflekteer oor wat Jesus oor en oor in die Bybel herhaal, die woord liefde.
Vir Eloise Jonker was hierdie Kersfees ’n baie spesiale tyd, haar grootste geskenk is die liefde wat haar vriende in hul harte ronddra vir haar.
Eloise wat in die bed gekluister is nadat kanker sy grypende kloue in 2007 in haar ingeslaan het, is vir ’n rukkie ‘ontvoer’ deur ’n groepie mense in wie se lewe sy ’n baie belangrike rol gespeel het.
Eloise se Kersfees het reeds op 22 Desember afgeskop toe twee vriendinne mee. Suretha Breedt en Chantal van der Merwe by haar gaan inloer het.
Toe Eloise dink dis net ’n lekker kuier het die loeiende sirenes van Legacy Ambulansdienste ingeweef met die Kersmusiek wat Eloise se huis gevul het.

Gene Jacobs, Phillip du Plessis en Suretha Breedt saam met Eloise Jonker.
Gene Jacobs, Phillip du Plessis, Henlu du Plessis, Gavin Cooper en Estie Kotze het Eloise vir ’n roomys by die Spur geneem. Vandaar af is die groep na Witbank Dam waar Eloise die water kon hoor en die sterre kon sien.
Skaars by die huis, warm toegemaak in die bed, het Klaasvakie sy werk kom doen.
“Ons is almal so gerat in hierdie gejaagde lewe veral met die werk wat ons doen. Eloise was nog altyd deel van ons span. As deel van Forensiese Patologie was sy een van die onmisbare skakels. Skielik het sy siek geword en baklei moedig teen kanker,” het Phillip vertel.
Hy kan ure uitwei oor staaltjies oor tonele waar hulle sy aan sy gewerk het.
“Ons vergeet partykeer om dankie te sê of net te sê ‘ek waardeer jou’. Vir Eloise wou ons Kersfees spesiaal maak, want sy het ander se lewe soveel verryk,” het Phillip gesê.
“Net die wete daar is mense wat omgee gee my krag. Uit die diepte van my hart wil ek graag elkeen bedank wat die pad saam met my stap. Dis julle wat my rede gee om aan te hou veg. Dankie ook aan my God wat my elke dag genadig is,” het Eloise gesê.
