LifestyleLocal newsNews

’n Liefdesverhaal van 57 jaar

“Liefde, respek en kommunikasie is beslis ons wenresep,”

“Liefde, respek en kommunikasie is beslis ons wenresep,” het mnr. Johan Janse van Rensburg vertel.

Hy en sy vrou, Rita, het hul 57ste huweliksherdenking op 9 Januarie gevier.

“Ons is hier in die NG Kerk Witbank- Suid (Trappieskerk) getroud. Ons het ’n jaar in Pretoria gebly en sewe jaar in Olifantsfontein. Daarna het ons in Kloof, naby Durban gaan bly. Hierdie was ons huis vir 22 jaar,” het Rita vertel.

Sy het ook vertel dat haar pa jare gelede by die Trappieskerk doodgeskiet is, en hulle het na eMalahleni verhuis om nader aan haar ma te wees.

“My ma lewe steeds, sy is al 93. Ons het haar kom bystaan na my pa se afsterwe en is nog al die pad hier. Al 28 jaar in dieselfde woonstel in Plumerstraat,” het Rita bygevoeg.

Twee seuns, vyf kleinseuns en een agterkleinseun voltooi die Janse van Rensburg’s se liefdeskring. Die oudste seun werk in Morelettapark in Pretoria, die ander werk in Nigerië, maar sy vrou bly in Secunda. Altwee ons seuns is ingenieurs,” was Rita se trotse woorde.

Sy het vertel dat sy graag sal wil trek en in ’n aftreeoord in Pretoria gaan bly, maar Johan is nog nie reg om hierdie skuif te maak nie.

“Ek wil nie trek nie, ek voel nog nie oud genoeg om in ’n aftreeoord te gaan bly nie,” het Johan vertel.

Hy was ’n ingenieur by Telkom, waar hy langafstand radio kommunikasie gedoen het. Hy het op die ouderdom van 49 afgetree nadat die mediese raad hom op pensioen gesit het. Rita het haar liefde al die jare vir kinders uitgeleef, en sy was vir ’n paar jaar die oorkoepelende hoof van SAVF Wonderland. Haar studies het gesorg dat sy vinnig werk kry, aangesien sy geleer het om met kinders te werk, help met gestremde kinders en kinders wat aan skok ly en nie kon praat nie, het sy geleer praat.

Mc811rs
Mnr. Johan (77) en me. Rita (74) Janse van Rensburg het op 9 Januarie hul 57ste huweliksherdenking gevier.

“Ek was verskriklik lief vir my werk. Nadat ons hierheen verhuis het, het ek gevoel die woonstel se mure druk my vas, ek het aansoek gedoen by Wonderland en die werk gekry. Ek moes na ’n besering aftree, op die ouderdom van 56. ’n Kind het onverwags in my arms gespring en ek het dit nie verwag nie. Ek kon nie beweeg nie en is per ambulans na Pretoria geneem. Daar was ek vir ’n maand in die hospitaal as gevolg van rugbeserings en het nie weer daarna gewerk nie,” het Rita vertel.

Johan en Rita kan getuig van ’n vol lewe, met hul familie en ook die plekke wat hulle sien met hul boksleepwa.

“Ons was drie jaar gelede vir drie maande in die Kaap. Ons het getoer. Vir ’n maand lank afgery soontoe, en as ons ’n mooi plek gesien het, gestop en gekamp. As ons moeg was, het ons weer na ’n volgende plek gery. Ons was vir ’n maand in die Kaap en het weer ’n maand lank terug gery. Swaziland en Botswana is net sommige plekke wat ons al gesien het. Ek is mal oor kamp, met ’n varsgebakte brood op die vuur. Hemels,” het Rita vertel.

Hierdie twee hou hulself ook besig by die huis, waar Johan foto’s neem, besig raak met die kar en ’n hand bysit met huiswerk, doen Rita naaldwerk en maak seker haar man se maag is propvol lekker kos. Johan het vertel dat hy foto’s neem en dit op CD’s sit, waar Rita weer die videokamera beman, en dit word dan ook op DVD’s gesit.

“Ons doen alles saam. As Rita huis skoonmaak, dan help ek haar. Wanneer ek doenig is by my kar, dan is sy daar om met my te gesels of my te help. Die een doen niks sonder die ander nie, en ek dink dit is een van ons wenresepte. In ’n kombuis is ek nie te sien nie, maar wanneer Rita siek is, sny ek vir haar ’n lekker dik stuk brood met konfyt, sonder botter. More is sy sommer weer gesond,” het Johan glimlaggend vertel.

Diè twee beplan weer ’n uitstappie na Klein Kariba vanaf 30 Januarie, vir 10 dae, en in Mei gaan hul die wildtuin besoek, met hul boksleepwa en kampeertoerusting.

“Ons het beslis ’n vol lewe, en is elke dag steeds net so lief vir mekaar soos die eerste dag,” het Rita afgesluit.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button