CrimeNews

Polisie voer oorlog teen dwelms

Die Witbank Polisie het die naweek en verlede week toegeslaan op dwelmgebruikers, waar 12 verdagtes in hegtenis geneem is.

Die Witbank Polisie het die naweek en verlede week toegeslaan op dwelmgebruikers, waar 12 verdagtes in hegtenis geneem is.

Op Saterdag 4 Februarie het beamptes nege verdagtes gearresteer, op aanklag van dwelmbesit.

Ongeveer 20:05 was ’n beampte aan diens, en hy het ’n man sien rondloop in ’n parkeerarea in Tasbetpark. Hy het die man voorgekeer en dagga in sy besit gevind. Dieselfde beampte het vroeër die dag, ongeveer 17:45 ’n verdagte man in OR Tambostraat sien loop. Hy het volgens die beampte senuweeagtig voorgekom en is voorgekeer, waar daar ook dagga in sy besit gevind is.

’n Ander beampte het op dieselfde dag ’n oproep ontvang, waarby die informant die polisie ingelig het van ’n persoon wat glo dagga verkoop. Tydens patrollering naby die verdagte se huis in Klarinet, het polisie die man in sy huis sien ingaan. Hulle het hom agternagesit en ’n blou sak in sy besit gevind. Hierin was dagga ter waarde van ongeveer R1500.

Tydens ’n stopveldtog wat ook deur die polisie gedoen is, het polisie ’n ander verdagte voorgekeer met 14 sakkies dagga, ter waarde van ongeveer R300.
Ongeveer 14:45 op dieselfde dag, het polisie ’n verdagte man gesien en hom deursoek. Hy het een ‘rock’ in ’n verdagte se besit gevind.

Nog twee arrestasies is op daardie dag gemaak, waar dagga en ’n ‘pinch’ in die verdagtes se besit gevind is.
Twee ander beamptes het te voet gepatrolleer, toe hulle ’n man in Beattystraat teëgekom het. Hulle het hom deursoek en sewe sakkies dagga in sy besit gevind, met ’n straatwaarde van ongeveer R200.

In die vroeë oggendure van dieselfde dag, het polisie ’n man in Springbokstraat, Tasbetpark voorgekeer. Hulle het hom gevra hoekom hy daardie tyd van die oggend rondloop, en hy het gesê dat hy van ’n vriendin af kom. Hulle het hom deursoek en ongeveer R500 se dagga in sy besit gevind.

Op Vrydag, 3 Februarie is 10 eenhede Nyaope, met ’n straatwaarde van ongeveer R500 in ’n verdagte se besit gevind op die Zaaihoek-pad. Die polisie het ’n leidraad gevolg wat hulle na die verdagte gelei het.
Op Woensdag, 1 Februarie het beamptes die onderdorp gepatrolleer en ’n man raakgeloop wat glo senuweeagtig voorgekom het. Die beamptes het hom nader geroep op die hoeke van Beatty-en Hofmeyerstraat waar hulle foelie in sy besit gevind het. Hierin was een ‘rock’, asook ’n deurskynende sakkie met ’n geel poeier inhoud, asook ’n ander sakkie met ’n wit poeier inhoud. Dit is vermoedelike dwelms en die man is gearresteer.

In Geringerstraat, op dieselfde dag het polisie nog ’n leidraad gevolg. Die beampte het met ’n ongemerkte polisievoertuig gery en ’n rooi Proton gevolg. Die voertuig het glo langs ’n bus gestop en ’n insittende in die Proton, het iets aan die busdrywer gegee, waarna die busdrywer geld oorhandig het. Die beampte het gesê dat die Proton weggejaag het, maar hy het die busdrywer gevra wat daar gebeur het, waarna die busdrywer vir hom die dwelms gegee het.

Dit was glo CAT, met ’n straatwaarde van R200.
Hy was in hegtenis geneem en het in die Witbank Landdroshof verskyn op aanklag van dwelmbesit op Donderdag, 2 Februarie. Hy het aansoek gedoen vir regshulp, en sy saak is uitgestel tot Donderdag, 9 Februarie vir die borgaansoek.

Al die ander verdagtes is ook in hegtenis geneem, en het op verskeie dae voor die Landdros verskyn.
Kaptein Eddie Hall, woordvoerder van die Witbank Polisie het Dinsdag, 7 Februarie gesê dat eMalahleni een van die hoof verspreidingstede is na die res van Mpumalanga.

“Die polisie het ’n span saamgestel by die stasie, wat hulle dae toewy aan die uitwissing van dwelms in eMalahleni, dwelmverbruikers en ook verkopers. Hulle sal met ’n geen verdraagsaamheidsbeleid hanteer word en oortreders sal die volheid van die strafwet ervaar, indien betrap word. Die gemeenskap word aangemoedig om vorendag te kom met enige dwelmaktiwiteite in hul area en die polisie waardeer ook die publiek se pogings in hierdie oorlog teen dwelms. Kontak gerus 0136555052 met inligting of 086 001 0111,” het kapt. Hall gesê.

Hy het ook bygevoeg dat 28 arrestasies in hierdie verband, sover slegs in Februarie gemaak is.

LEES OOK:
Dwelms op straat, skelms in tronk
Dagga by dosyne

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button