CrimeNews

Kar weg na hospitaalbesoek

’n Gesin wat ’n siek familielid in die hospitaal besoek het, was uit die veld geslaan toe hulle na die besoek besef het hulle kar is skoonveld.

’n Gesin wat ’n siek familielid in die hospitaal besoek het, was uit die veld geslaan toe hulle na die besoek besef het hulle kar is skoonveld.

Die voorval het Dinsdag, 31 Januarie by Life Cosmos Hospitaal se parkeerarea gebeur.

Me. Karen Oberholzer het vertel dat hulle vir haar pa in die hospitaal gaan kuier het.

“Ons was daar vir aandbesoek, en ek kan nie die presiese tyd onthou wat ons ingegaan het nie, maar dit was so tussen 18:45 en 19:15. Ons was deur die hek en omdat die parkeerarea vol was, het ons by ’n parkering gestop wat langs die graswal was, naby die rookarea. Ek het die bakkie langs ons kar opgemerk en ons het ons Hyundai Accent gesluit en is by die hospitaal in,” het Oberholzer vertel.

Sy het bygevoeg dat hulle omstreeks 20:20 uit die hospitaal gekom het.

“Ek het saam met my ma na haar voertuig geloop en my man het na ons voertuig gegaan. Toe ek en my ma naby die hek van die hospitaal kom, het ek my man na my ma se kar sien loop. Hy het gevra ons moet saam met hom kom kyk, want hy kry nie die Accent nie,” het sy verder vertel.

Sy het ook gesê dat sy en haar ma toe gery het na waar hulle hul voertuig gelos het, vroeër die aand.

“Die besef het deurgedring dat ons kar weg is, en ons het die hele parkeerterrein deurgeloop om te kyk of dit nie miskien iewers anders parkeer is, om later net te vat nie. Ons het na die sekuriteit geloop by die hek en gevra of hulle iets vreemd opgemerk het. Hulle het bevestig dat alles normaal was en ons het toe gevra om met die hoof van die sekuriteit te praat. My broer het ’n verslag aangevra en ook wil ons weet wat is die hospitaal se prosedure om hierdie gevalle te voorkom,” was Oberholzer se verdere woorde.

“Die wit Accent is ’n 1995 model met krapmerke aan die regterkant en ook ’n groot sleepstang wat spesiaal vir dit gemaak is,” het Oberholzer ten slotte gesê.

Life Cosmos Hospitaal is genader vir kommentaar en hulle het gesê dat hierdie diefstal ’n geïsoleerde voorval was en dat daar baie min kriminele elemente by die hospitaal is. Daar is verskeie sekuriteitsmaatreëls in plek, maar selfs met hierdie maatreëls in plek, vind kriminele steeds maniere om ’n misdaad te pleeg.

“Ons streef daarna om ’n veilige area te voorsien vir al ons pasiënte en besoekers,” het me. Christelle Matthee, woordvoerder van die hospitaal Maandag, 13 Februarie gesê

Ander besighede in die stad wat ook toegangsbeheer toepas het genoem dat hulle selfs sekuriteit kennisgewingsborde het wat duidelik stipuleer dat motoriste op eie risiko parkeer.

“Daar is opportuniste wat geleenthede sien en dit aangryp, ongeag van die sekuriteit by die besigheid of maatskappy. Mense moet weet dat voertuie op eie risiko gelos word, ongeag van die sekuriteit wat ons verskaf,” het een van die besighede se woordvoerder, wat anoniem wil bly, gesê.

By ’n ander instansie het die hoof van sekuriteit gesê dat hulle ’n sisteem het waar ’n knoppie gedruk moet word om by die hek uit te gaan, wat hul kameras die geleentheid gee om gesigte vas te vang.

“Alhoewel hierdie sisteem werk, het ons net ’n gesig, sonder ’n naam en van,” het die woordvoerder gesê.

Volgens sers. David Ratau, woordvoerder van Witbank Polisie word voertuie enige tyd en enige plek gesteel.

“Maak nie saak of jy jou kar in ’n sekuriteitsparkering of in die straat met karwagte stop of selfs in jou erf by jou huis nie. Ons doen ’n beroep op motoriste om self ook die nodige voorsorgmaatreëls, soos alarms, rathefboomslotte en motoropsporingstelsels te gebruik,” het sers. Ratau gesê.

LEES OOK:
Dief beloof hy gaan nou kerk toe
Karre word boewe se gunsteling

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button