Die Opperman’s gee terug
"Ook het ons die skottelgoedwasser aan ’n vrou gegee wie se man meeste van die tyd by die werk is en sy alleen die huiswerk moet beman"

Nadat Kevin en Janie Opperman se huis vroeër vanjaar afgebrand het, het hulle besluit om terug te gee aan die gemeenskap.
Op Donderdag, 5 Januarie het hulle huis byna heeltemal afgebrand terwyl hulle met vakansie was. Nadat hulle die nuus bekend gemaak het op Facebook en hulle verhaal ook in die WITBANK NUUS verskyn het, het samaritane van die eMalahleni gemeenskap hulle bygestaan en gehelp waar elkeen kon.
“Ons het ’n ekstra yskas, skottelgoedwasser en wasmasjien gehad. Kevin het op Facebook vir die mense gevra wie dit werklik nodig het, want ons het dit weggegee. Die wasmasjien het ons aan ’n vrou van Hospice gegee, met die aantal wasgoed wat hulle ’n dag moet doen, het ons gedink dat dit hulle kan help. Ook het ons die skottelgoedwasser aan ’n vrou gegee wie se man meeste van die tyd by die werk is en sy alleen die huiswerk moet beman. Die yskas gaan na ’n tannie in Edenpark,” het Janie gesê.

Potjies wat die Opperman-gesin as deel van hul nuwe begin beskou. Hierdie potte was in hul huis wat op Donderdag 5 Januarie afgebrand het, en hulle het intussen ’n vetplanttuin hieruit gemaak.
Sy het vertel dat hulle baie versigtig besluit het vir wie hulle die goed gaan gee, aangesien die punt was om dit vir mense te gee wie werklik in nood is.
“Ons het net besluit dat die mense ons regtig bygestaan het toe ons dit die nodigste gehad het. Hoe meer ekstra goed ons het, hoe meer gaan ons teruggee vir behoeftiges,” het Janie ook bygevoeg.

Die huis wat Kevin en Janie Opperman, saam hul twee dogters, ’n tuiste genoem het vir vier jaar, voor dit vroeër vanjaar in ’n brand byna vernietig is. Hul huis het op Donderdag 5 Januarie afgebrand.
Sy het vertel dat hulle steeds wag vir die versekering om deur die tenders te werk en bouers te kies om die bouproses aan die gang te sit. Sy het gesê dat hulle hopelik meer inligting sal hê voor of naby 17 Maart.
“Daar was twee potjies in die werkskamer wat die meeste gebrand het. Kevin het hierdie potte gaan haal en ons het vetplanttuine gemaak in hulle. Steeds kan ons genot vind in die kleinste dinge,” was Janie se woorde.
Sy het ook gesê dat hulle ontslae geraak het van onnodige ‘bagasie’, sonder dat hulle dit werklik besef.
“Ek het altyd geklou aan klein dinge, ek is baie sentimenteel. Ek het steeds van my ma se klere gehad, wat ek gehou het want ek was bang ek verloor die herinneringe. Maar nou dat alles weg is, het ek besef die herinneringe is natuurlik nog daar en hierdie hele proses was vir ons net ’n nuwe begin,” het sy ten slotte gesê.
Janie het die volgende op Facebook geplaas: ‘Ek dink ons potjies lyk baie mooi!
Soos die phoenix, staan ons ook op uit die asse uit. Ons sien die mooi in iets wat deur die vlamme kon verbrokkel het, maar nou met bietjie liefde, aandag, grond, plante en water, ‘n nuwe, mooi begin het.’
LEES OOK:
https://www.citizen.co.za/witbank-news/84148/mamma-ek-het-nog-geld-in-my-pienk-varkie/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/86166/brandweer-se-als-was-in-orde-tydens-huisbrand/
