Local newsNews

Ma soek desperaat na antwoorde

Twee jaar en ses maande gelede het me. Madeleine Swanepoel se lewe handomkeer verander.

Twee jaar en ses maande gelede het me. Madeleine Swanepoel se lewe handomkeer verander.

Op daardie lentedag op 26 September is haar dogter Euleine de Kock (24) dood aan veelvuldige beserings wat sy tydens ’n ongeluk ’n week tevore opgedoen het.

Vir Swanepoel is dit steeds ’n emosionele uitputtende reis waartydens sy nog geen antwoorde gekry het nie.
Die vrae oor daardie dag toe Euleine met haar Suzuki- motorfiets teen ’n Audi gebots het, is besig om Swanepoel in ’n maalkolk vas te vang.

Die ongeluk het Vrydag 19 September om 10:35 op die hoek van OR Tambo – en Kiepersolstraat gebeur.
In die ongelukverslag word daar slegs gemeld dat die Audi in ’n noordelike rigting gery en oos wou draai en die motorfietsryer in ’n suidelike rigting gery het. Die Audi en die motorfiets het in die middel van die pad gebots.
Toe Swanepoel van die ongeluk hoor het sy na die ongelukstoneel gehaas en toe Witbank Hospitaal toe.

“Euleine is 11:00 opgeneem en 16:40 was sy steeds in ongevalle. Sy is daarna na die intensiewe sorgeenheid geneem. My kind was stukkend.”

Swanepoel het dag en nag biddend by haar dogter gewaak. Teen die daaropvolgende Woensdag het ’n dokter lank met haar gesels en gesê sy moet haar op die ergste voorberei.


Volgens die dossier geskiedenis is die dossier reeds op 19 September 2014 geregistreer.

“Ek het stilweg begin afskeid neem. Euleine het nie geroer nie, Sy het nie breinskade gehad nie, maar sy het erge hoofbeserings opgedoen. Daar het my kind gelê, die dogter wat God 24 jaar lank vir my geleen het. Menslik was daar niks wat die dokters vir haar kon doen nie.”

Swanepoel het haar dogter vasgehou toe sy die Vrydag dood is.

“My lewe het daar tot stilstand gekom.”

Na Euleine se dood het die vrae Swanepoel begin oorweldig,

“Ek wou nie die bestuurder van die Audi in die hof hê nie. Ek wou net hê sy moes my vertel wat gebeur het. Sy moes net sê sy is jammer.”

Die hartseer ma het begin navrae doen en die hospitaalverslae gekry en keer op keer by die ondersoekbeampte ingeloer om te hoor hoe die saak vorder.


Me. Madelein Swanepoel soek antwoorde na haar dogter, Euleine, se dood in September 2014.

“Hy het my verseker die dossier is op 10 Februarie 2016 hof toe. Ek het hom geglo en soos ’n drenkeling vasgeklou aan die gedagte dat geregtigheid sal geskied.”

Tydens ’n klein eise hofsaak in Oktober verlede jaar het Swanepoel besluit om self te gaan kyk hoe ver die saak in die hof is.

“Ek het die hofregister vir 18 maande nagegaan en nêrens is daar melding gemaak van Euleine se saak nie.
Volgens Swanepoel het sy weer keer op keer polisiestasie toe gegaan om oor die dossier op te volg.
“Ek was weer en weer en weer polisiestasie toe. Op 31 Januarie vanjaar het ek besef die ondersoekbeampte het nog niks aan Euleine se saak gedoen nie. Hy maak net verskonings en noem dat die hofrol te besig is en hy het ook die verskoning gebruik dat hulle besig is met aanbouing by die hofgebou en daarom is die hofrol oorvol en kan Eulaine se dossier nie geakkommodeer word nie. Ek het vir ’n afskrif van die ooggetuie se verklaring gevra. Hy het gesê hy mag dit nie vir my gee nie. In dieselfde asem het hy gesê hy sal seker maak dat die ooggetuie se verklaring verdwyn.”

Swanepoel het die ondersoekbeampte gaan verkla in die hoop om uit te vind hoekom hy die dossier nie hof toe gestuur het nie.

“Ek weet nie meer hoe om te lewe nie. Ek soek net antwoorde, ek moet hierdie hoofstuk probeer afsluit. My drome en my hart is saam met Euleine veras.”

Die bestuurder van die voertuig het telefonies aan WITBANK NUUS gesê dat sy eers met haar prokureur wil praat voor sy iets sê. Teen druktyd was daar nog geen terugvoer van haar of haar prokureur af nie.

Ook van die polisie se kant af was daar gee aanduiding van hoe ver die ondersoek tans is nie.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/27567/motorfietsryer-ernstig-na-ongeluk/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/28962/motorfietsryer-sterf-week-na-ongeluk/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button