Seekoeiwater se valk met ’n pellet geskiet
’n Kaalwangvalk wat uit ’n boom gered is nadat hy in vislyn verstrengel geraak het, herstel tans na X-strale wys dat ’n pellet-patroon in hom vassit.
’n Kaalwangvalk wat Vrydagmiddag, 30 Oktober, uit ’n boom in Seekoeiwater gered is nadat hy in vislyn verstrengel geraak het, het voëlliefhebbers aan die gons.
’n Kommerwekkende ontdekking is gemaak toe X-strale van die valk gewys het dat ’n pellet-patroon in sy lyf vassit.
Veearts dr. Nolan Landman het bevestig dat die valk ’n gebreekte vlerk het.
Piet Wassenaar het gesê daar is ’n moontlikheid dat die valk in die Seekoeiwater-omgewing geskiet is, aangesien inwoners sê hy maak al vir ’n lang tyd in die omgewing nes.
Waarskuwing oor onwettige skietery
Die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) is reeds oor die voorval ingelig en het beklemtoon dat streng opgetree sal word teen enigiemand wat daaraan skuldig bevind word dat hulle wilde diere skiet.
Wassenaar, wat oor ’n MTPA-permit beskik om met wilde diere te werk, het gesê ’n spesifieke prosedure moet gevolg word wanneer ’n wilde dier skade aanrig. ’n Amptelike skadepermit moet uitgereik word voordat enige dier van kant gemaak mag word.
Wassenaar het gesê die vislyn waarin die valk verstrengel geraak het, was afkomstig van ’n vlieër wat in die boom vasgehaak het.
“Dit is onwettig om enige vuurwapen, insluitend ’n windbuks of pelletgeweer, binne ’n munisipale gebied af te vuur,” het polisiewoordvoerder AO David Ratau gesê.
Die valk sal na Birds of Prey in Dullstroom geneem word om van die gebreekte vlerk te herstel.
Wassenaar het gesê die pellet-patroon gaan nie verwyder word nie, omdat die operasie dalk tot die valk se dood kan lei.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website, Facebook, X, Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
